Frik Vermaak, uitvoerende hoof van Atletiek Suid-Afrika (ASA), is gister deur dié atletiekliggaam se raad geskors en moet op ’n tugverhoor verskyn.
James Evans, voorsitter van ASA, sê daar is vrae oor die wyse waarop Vermaak die liggaam se geldsake bedryf, asook die personeelaanstellings wat hy gedoen het sonder om die raad daarin te ken.
Volgens Evans is ASA steeds op die rand van bankrotskap.
Evans sê ASA se raad wil ook van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) weet hoe dit gebeur het dat net Vermaak akkreditasie ontvang het om die Olimpiese Spele in Londen by te woon, maar nie een van die ander raadslede nie.
Evans is nie bekommerd dat Vermaak se skorsing en tugverhoor moontlike borge gaan afskrik nie.
“Ek beskou Frik (Vermaak) se skorsing en tugverhoor as ’n voorkomende maatreël. Dit is beter dat ons nou agter die kap van die byl kom.”
Vermaak sê hy verwelkom die kans om sy saak voor ’n tugverhoor te stel. Hoe gouer dit gebeur, hoe beter.
“ASA se raad het die reg om vrae te vra.
“My gesindheid wanneer dit by Suid-Afrikaanse atletiek kom, is dat niemand ooit groter as die sport mag wees nie.”