Beeld

Babaslaner is weer swanger

Deur: Ügen Vos 2012-07-03 02:11
Melinda Marshall (26), die ma wat verlede jaar saam met haar destydse lewensmaat skuldig bevind is op aanklag van ernstige aanranding wat uiteindelik tot hul seun se dood gelei het, is weer swanger.

Baba Michael Connor, wat ten tyde van die aanrandings in 2003 sowat drie maande oud was, het erge breinskade opgedoen.

Hy is op 16 Oktober verlede jaar as ’n blinde kwadrupleeg in die Avril Elizabeth-tehuis in Johannesburg oorlede.

Streeklanddros Frans Booyens het albei ouers verlede jaar skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Gert Scheepers, Marshall se regsverteenwoordiger, het streeklanddros Frans Booyens gister ter versagting van haar vonnis meegedeel dat sy kliënt sowat drie maande swanger is.

Scheepers het buite die hof gesê hy het self maar onlangs van die swangerskap te hore gekom. Marshall weet nog nie of sy ’n seun of ’n dogter verwag nie.

Marshall, wat twee seuns (4 en 5 jaar) by haar nuwe man, Diederich, het, was 17 jaar oud toe Michael verwek is.

Booyens het gister bevestig dat al twee ouers 18 jaar oud was toe die aanranding van hul baba begin het.

Dít beteken dat hulle nie van die voorgeskrewe minimum vonnis van tien jaar vir die oortreding kwytgeskeld kan word vanweë jeugdigheid nie.

Bradley Connor (26), baba Michael se pa, wat saam met Marshall in die Johannesburgse streekhof teregstaan, is in Oktober 2010 getroud met die ma van sy vierjarige dogter, wat op 19 Februarie 2008 gebore is.

Sowel Scheepers as MacDonald Khumalo, Connor se regsverteenwoordiger, het gister hul kliënte se jeugdigheid toe die misdaad gepleeg is, sowel as dat hulle ander kinders het om na om te sien, aangevoer as redes vir vonnisversagting.

Adv. Carina Coetzee, staatsaanklaer, het gesê dié argumente is ongeldig en dat nie een van die beskuldigdes nog werklik berou getoon het nie.

Themba Mjonondwane, proefbeampte in die departement van korrektiewe dienste (DKD), het gister getuig korrektiewe toesig vir die beskuldigdes is ingevolge wet toelaatbaar, maar is na sy mening nie ’n gepaste vonnis vir so ’n ernstige misdryf nie.

Lede van die organisasie Women and Men Against Child Abuse was gister geskok toe Marshall in antwoord op ’n vraag van Booysens nie die geboortedatums van haar twee lewende kinders kon onthou nie.

Connor en Marshall sal op 13 Julie gevonnis word.
 
«Terug