Die vier mannetjies is Donderdag in hul nuwe hok vrygelaat nadat hulle 30 dae lank in kwarantyn was. Hulle kom uit die Hannover-dieretuin in Duitsland en is einde Oktober in Suid-Afrika ontvang.
“Ons het hulle ondersoek en siekterisiko’s uitgeskakel,” het dr. Abeda Dawood, versameling-en-bewaringsbestuurder van die dieretuin, gesê.
Ibo (6), Aki (3), Tika (2) en Tsidi (2) pas blykbaar vinnig by hul nuwe omgewing aan.
“Ander inrigtings teel met dié bobbejane, maar dié vier is nog te jonk,” het Carin Cloete, kurator van aapspesies in die dieretuin, gesê. Volgens haar moet hulle daarvoor minstens sewe jaar oud wees.
“Die volwasse mannetjies weeg tussen 25 kg en 30 kg, drie keer die gewig van dié jongelinge.” Dié bobbejane lewe gewoonlik nie langer as 20 jaar nie, maar volgens Cloete leef hulle tussen 30 en 40 jaar in gevangenskap omdat hulle dan gemakliker lewe. “Hulle stres minder en hoef nie te jag nie.”
Die dieretuin werk saam met Europese bewaringsinstellings om die drilbobbejaanspesie (Mandrillus leucophaeusdril) te bewaar en om hul getalle in die toekoms te versterk.
Volgens die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) kom drilbobbejane hoofsaaklik in Kameroen en Nigerië voor.Die spesie is op die IUCN se rooidatalys omdat hulle van die mees bedreigde spesies in Afrika is.
“Intensiewe jagtogte en die uitwissing van woude bedreig dié bobbejane se lewens,” het Craig Allenby, bestuurder van korporatiewe ontwikkeling by die dieretuin, gesê. Volgens Allenby het die drilbobbejaanbevolking in die afgelope 30 jaar met die helfte gekrimp.
Drie van die vier drilbobbejane wat gister vir die eerste keer in hul nuwe hok in die Nasionale Dieretuin in Pretoria vrygelaat is. Hulle kom van die Hannover-dieretuin in Duitsland en was eers 30 dae lank in kwarantyn om siekterisiko’s uit te skakel. Foto: Matthew Brewer