Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Beeskarkas in Ermelo-dam gevind

Deur: Buks Viljoen 2012-12-18 23:48
Die erge waterprobleme wat Ermelo se inwoners al ’n jaar teister, het nóg ’n kinkel gekry toe ’n beeskarkas in die dorp se opgaardam aangetref is.

Hoe lank die karkas al in die Brummerdam langs die pad tussen Ermelo en Hendrina gelê het voordat dit gevind is, weet niemand nie.

Inwoners het die karkas blykbaar eergister uit die dam gesleep nadat die Msukali­gwa-munisipaliteit nie op versoeke gereageer het om dit te verwyder nie.

Die dorp sukkel nou al langer as twee jaar met wispelturige watertoevoer, hoofsaaklik weens verouderde infrastruktuur, die lae watervlak van die Douglasdam, asook die klaarblyklike onbeholpenheid van die munisipaliteit ingenieursafdeling.

Die munisipaliteit moes onlangs noodgedwonge water uit die Brummerdam sowat 20 km buite die dorp begin pomp. Die dam is tans net sowat 12% vol.

Toe die watervlak begin daal, het die karkas sigbaar geword.

Athol Stark, voorsitter van die plaaslike sakekamer, het gesê inwoners is by breekpunt oor die voortslepende waterprobleme.

“Mense begin oorkook van moedeloosheid en iemand gaan iets stupids aanvang.”

«Terug