Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Behou dié 2 as af dae, sê SA kerklui

Deur: Neels Jackson 2012-06-11 23:21
Dit sal gaaf wees as Goeie Vrydag en Kersdag as openbare vakansiedae behou kan word, het kerklui gister gesê.

Dr. Isak Burger van die Apostoliese Geloofsending het egter aan Beeld gesê hy sal nie oor dié saak betoog of ’n martelaar word nie.

Ds. Cassie Aucamp van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het gesê daar is geen Bybelse eis dat dié dae vakansiedae moet wees nie.

In hul kerkorde word die viering van Paasfees, Hemelvaart, Pinkster en Kersfees aan gemeentes oorgelaat.

Volgens hom is die ware Christelike feesdag die eerste dag van die week, die Sondag, waartydens Christus se opstanding uit die dood gevier word.

Burger, Aucamp en prof. Nelus Niemandt was dit ook eens dat Gesinsdag (vroeër as Paasmaandag bekend) en Welwillendheidsdag (Tweede Kersdag) geen godsdienstige betekenis het nie.

Burger het gevra vir die behoud van Goeie Vrydag en Kersdag bloot uit ’n gerieflikheids- en tradisionele perspektief.

Oor Hemelvaartdag het Burger gesê AGS-gemeentes maak inderwaarheid nou meer van die dag as toe dit ’n vakansiedag was.

Niemandt het gesê ook NG kerke vind kreatiewe maniere om dit te vier, met vroeë bidure of eredienste in die aand.

Hy sou nie beswaar aanteken as heilige dae van ander gelowe ook vakansiedae word nie, maar uit die oogpunt van die land se funksionering is daar eintlik al te veel vakansiedae.

Boonop sou sulke dae net klein persentasies van die bevolking raak.

Niemandt het ook daarop gewys dat Paasnaweek vir groot swart kerke soos die ZCC baie belangrik is. Hy kan amper nie dink dat Goeie Vrydag en Kersdag as vakansiedae moet verval nie.

Die VF+ het in ’n verklaring gesê die hersiening van vakansiedae kan versoening en nasiebou in die land bedreig.

Volgens die party is 78% van die bevolking Christene en Kersdag en Goeie Vrydag is die enigste twee Christelike vakansiedae. Dié dae word ook internasionaal erken.

Die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van Kulturele, Geloofs- en Taalgemeenskappe beplan openbare vergaderings oor openbare vakansie-dae nadat hulle klagtes en versoeke gekry het dat vakansiedae wat net Christenskap erken onregverdig en diskriminerend is.
 
«Terug