Van der Merwe het gehoop om met sulke toetse by die waarheid oor die ontstaan van die Belydenis van Belhar uit te kom.
Hy reageer in ’n brief aan Beeld op ’n berig waarin teoloë hom kritiseer oor die memorandum oor Belhar waarin hy skryf dat dié belydenis bygedra het tot geweld in die 1980’s.
Van der Merwe sê hy het verskeie bronne geraadpleeg, maar hy aanvaar sy bronne kan verkeerd wees.
Vir hom gaan dit suiwer oor die waarheid en hy dink Boesak en Smit wat by die ontstaan van Belhar betrokke was, hou die sleutel wat die waarheid kan ontsluit.
Hy stel vier vrae waarop hy wil hê hulle moet reageer:
Is die belydenis volgens u kennis op so ’n wyse opgestel of op enige tydstip in kerklike krin- ge gebruik om verset teen die vorige regering aan te wakker en die regering te diskrediteer?
Het u op enige tydstip in die openbaar die terreurvoorvalle wat gedurende die 1980’s voorgekom het, veroordeel en Christene aangemoedig om dit op geen wyse te steun nie?
Het u ooit deur u optrede of uitlatings op enige wyse, hetsy regstreeks, deur beïnvloeding of deur geld beskikbaar te stel, die revolusionêre aanslag gesteun?
Is die belydenis volgens u kennis gedurende die 1980’s op enige wyse hoegenaamd gebruik om die terreur en geweld te regverdig wat deur die ANC/SAKP-alliansie bedryf is?
As hul antwoorde sy inligting weerlê, sal hy onvoorwaardelik toegee hy is verkeerd, Belhar aanvaar en die koste van die toets dra. As een of albei die toets nie slaag nie, moet hulle die koste dra.
Oor ’n onderskeid tussen gewelddadige en vreedsame verset het Van der Merwe gesê vreedsame protes soos massabetogings het ’n klimaat vir geweld geskep en gewoonlik daartoe gelei.
Hy is egter bereid om die vrae in oorleg met Smit en Boesak te herformuleer sodat almal tevrede is daarmee.
Smit het egter by navraag gesê hy stel nie belang in dié soort gesprek nie. Hy kry die generaal jammer en hoop die nodige persoonlike en pastorale gesprekke sal met hom gevoer word.
Boesak het gesê daar is geen nut om met die generaal in openbare debat te tree nie omdat sy vrae geen begrip toon vir die betekenis van die belydenis nie.
“Dit is in wese minder ’n aanval op Belhar en veel meer ’n regverdiging van apartheidsgeweld, of miskien ’n regverdiging van sy hele lewe.”
Boesak sê nou is die ideale tyd vir die NG Kerk om met sy eie lidmaat in gesprek te tree. Dis immers die NG Kerk wat Belhar nou wil aanvaar.
Hy het niks te verdedig of te regverdig nie.