“Almal soek ’n stukkie van my,” het Muntandare, van Cullinan, gister trots op sy gepaste pienk en blou motorfiets by Loftus Versfeld gesê.
Almal wil saam met hom en sy motorfiets afgeneem word, sê hy.
Muntandare het vier maande lank aan sy motorfiets gewerk wat van ver af “lyk soos ’n bul”.
“Dit is eintlik ’n vier-in-een. As jy mooi kyk, sal jy ’n bosvark, ’n leeu, ’n hond en ’n bul sien. Maar al wat die Bulls-ondersteuners sien, is ’n bul.”
Sy gunsteling Afrikaanse sanger, Blackie Swart, se Liewe Lulu dawer gewoonlik kliphard uit dié bewegende “bul” se luidsprekers as Muntandare ry.
Die koppe draai behoorlik as hy op pad is.
“Daar was al motorbotsings soos mense vir my kyk.”
Hy het dié No Limit 2012-model in April teen R2 500 gekoop en dit eers dié week klaar gebou.
“Ek het die motorfiets in ’n droom gesien, toe moes ek dit bou,” het Muntandare gesê.
Hy sê net toe hy dit klaar gebou het, het hy dit rooi en swart geverf, maar sy vier kinders was bang vir dié motorfiets.
“Dit het my self skrik gemaak,” het hy laggend gesê.
Muntandare het dit toe blou en pienk geverf.
Dít was maklik, want hy is ’n paneelklopper met sy eie onderneming in Silverton, Pretoria.
Hy reken hy is die grootste Bulls-ondersteuner, omdat hy hulle deur dik en dun bystaan.
“Wanneer jou pa siek is, is hy steeds jou pa. Jy staan by hom tot hy weer sy krag terug kry. Dit is dieselfde met die Bulls. Hulle doen nie so goed nie en ek staan steeds by hulle.”
Hy het nog net die Bulle op televisie gesien. Sy gunstelingspeler is die oud-Bulle-haker Gary Botha.
“Mense het my gevra hoekom maak ek nie ’n motorfiets vir Kaizer Chiefs nie. Ek wil almal wys dat ons swart mense ook van rugby hou.”
Hy meen as hy die Bulle se gelukbringer was, sou hulle baie wen.
“Ek was nou op Loftus, so hulle gaan wen,” het hy gistermiddag oor gisteraand se wedstryd tussen die Bulle en die Stormers voorspel.
"Ek wil almal wys dat ons swart mense ook van rugby hou" - Gibson Muntandare