Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Blouligte: Drama by tolhek

Deur: Buks Viljoen 2012-07-22 23:02
’n Padwoede-storm dreig om om die kop van een van Mpumalanga se mees senior ANC-politici los te bars nadat sy lyfwagte ’n motoris erg aangerand het.

Siphosezwe Masango, LUR vir huisvesting in Mpumalanga, het Donderdagoggend toegekyk hoe sy wagte ’n motoris, Gert van der Merwe (38), aanrand.

Dit lyk asof Masango glo Van der Merwe in ’n stadium self ook rondgeruk het.

Die aanloop tot die aanranding by die Nkomazi-tolhek het enkele kilometers voor die tolhek begin toe Masango se luukse wit Mercedes glo met flitsende blou ligte by ’n string voertuie, onder meer Van der Merwe se bakkie, verbygejaag het.

“Die kar het teen ’n hoë spoed teen aankomende verkeer oor ’n sperstreep by ons verby geblits,” het Van der Merwe vertel.

Die beweerde oortreding het omstreeks 09:40 op die N4-tolpad by Kaapmuiden plaasgevind.

Van der Merwe was van Nelspruit af op pad na Komatipoort vir sake.

Enkele kilometers verder het Van der Merwe by die tolhek agter Masango se motor stilgehou terwyl hy (die motorbestuurder) die tolhekgeld betaal het.

“Ek het by die venster uitgeleun en op hom geskree dat hy roekeloos is en ander motoriste se lewe in gevaar stel. Hy het toe iets vir my geskree.”

Volgens Van der Merwe het Masango se motor stilgehou toe die valboom voor sy (Van der Merwe) se bakkie toemaak.

“Toe ek wou betaal, het ek gesien die bestuurder en nog ’n man het uit die voertuig geklim.

“Hulle het na my motor geloop en geskree: ‘What is you problem?’,” het Van der Merwe vertel.

Een van die wagte het sy pistool in die hand gehad en die ander pepersproei.

Van der Merwe het uitgeklim en die twee tegemoet geloop.

Intussen het ’n derde persoon uit die Mercedes geklim en ook nadergestorm. Dit was Masango. ’n Woordewisseling het by Van der Merwe se voertuig ontstaan.

Masango het reg langs Van der Merwe gestaan toe hy (Van der Merwe) met ’n onbekende voorwerp teen die linkerkant van kop geslaan is.

Hy is ook met pepersproei in die gesig gespruit.

“Ek het geweet ek moet wegkom en het losgeruk,” vertel Van der Merwe.

Hy het van die tolhek af in die rigting van die Kaapmuiden-polisiekantoor gehardloop. Die polisiekantoor is sowat 400 m van die tolhek af.

Hy is egter deur die twee lyfwagte agternagesit.

Intussen het ’n verkeersbeampte wat in een van die begeleidingsvoertuie was Masango van die toneel af weggelei.

Kort daarna het die lyfwagte na die motor teruggekeer en vinnig weggetrek.

Van der Merwe het ’n klag van aanranding by die polisie ingedien. Hy het ook mediese behandeling gekry.

Beeld het vasgestel Masango was glo op pad na Tonga, waar hy ’n gedenkdiens van die slagoffers van die ongeluk tussen die vragmotor en die trein ver­lede week, moes bywoon. Hulle was glo laat vir die diens.

Die polisie op Kaapmuiden het bevestig hulle ondersoek Van der Merwe se klag.

Verskeie pogings van Beeld ­sedert Vrydag om kommentaar by Masango te kry was vrugteloos.


Gert van der Merwe (regs bo in die foto) hardloop na die polisiekantoor terwyl lyfwagte van Siphosezwe Masango hom agternasit.


Masango word ná die onderonsie deur ’n verkeersbeampte na sy ampsmotor teruggelei.


 
«Terug