Kaapstad. – Die ANC sê dis nie nodig om met adj.pres. Kgalema Motlanthe te vergader oor sy toekoms nie.
Motlanthe is verlede week uit die kussings gelig as die ANC se adjunkpresident en die swaard hang nou ook oor sy posisie as dié van die land.
Motlanthe, wat hom ook nie herkiesbaar gestel het vir die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) nie, is ook verlede week aangewys as hoof van die ANC se nuwe politieke opleidingskool.
Dit is lankal bekend dat hy ’n passie het om met die jeug te werk en die nuwe loopbaanrigting kan aandui waar hy hom binnekort kan bevind.
Terwyl die ANC gesê het dat die party Motlanthe nie uit die regering sal verwyder nie, het die party skynbaar Motlanthe nog nie gevra om aan te bly nie.
“Daar’s geen rede om hom te nader (en te vra oor sy toekomsplanne) nie.
Hy is die adjunkpresident (van die land),” het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, aan Beeld gesê.
“Nee. Hoekom moet ons met hom vergader?” het Mantashe gesê toe hy daaroor gevra is.
“Hy het nie gesê hy wil bedank nie. Hoekom moet ons hom smeek om nie te loop nie as hy nog niks gesê het nie?”
Een Beeld-bron in die binnekring het gesê as Zuma Motlanthe nie gaan pos nie, sal Motlanthe waarskynlik al in Januarie self bedank.
“Motlanthe het gestaan vir ’n beginsel, dit is waarom hy gekies het om tog teen Zuma te staan. Hy het gestaan vir verandering, want hy het geglo die party moet in sekere aspekte verander.
Die afgevaardigdes het dit egter duidelik gestel dat hulle nie so voel nie. Daarom maak dit nie sin dat hy aanbly nie. Sy siening verskil te veel van hoe die meerderheid in die party voel,” het Beeld se bron gesê.
Mantashe is gevra of hy nie dink Motlanthe voel moontlik verplig om te bedank nie aangesien hy so min steun in die partyverkiesings gekry het.
“Jy wil nou bespiegel. Om te bespiegel oor dinge waarvan ’n mens niks weet nie is sleg en help niemand nie,” het Mantashe gesê.
Motlanthe is vervang deur Cyril Ramaphosa, sakeman en swaargewig ANC-leier.
Beeld se bron het gesê dit sal interessant wees om te sien of Ramaphosa toegelaat sal word om onafhanklik te funksioneer.