’n Voormalige boer van Limpopo wat “met sy skouer betaal het” vir sy grond, het vandag niks nadat ’n grondeis op sy plaas skeef geloop het.
Meyer du Toit (52) en twee van sy drie seuns ry met ’n geleende bakkie deur die land op soek na werk nadat die gesin hul piesangplaas, huis, albei motors en twee sakeondernemings verloor het toe die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming Du Toit net R2,8 miljoen van die ooreengekome R3,3 miljoen vir sy plaas betaal het.
Du Toit is in 1999 ongeskik verklaar om te werk nadat hy ’n skouerbesering in ’n motorongeluk opgedoen en die gebruik van sy regterarm verloor het.
Hy het sy ongeskiktheidspensioen en spaargeld gebruik om ’n plaas in Levubu buite Makhado (Louis Trichardt) te koop.
In 2008 het die departement aangebied om die plaas, waarop daar ’n grondeis was, by Du Toit te koop.
Nadat die koopkontrak geteken is en die gesin al maande lank in Mosselbaai gewoon het waar hy twee ondernemings op skuld gekoop en bedryf het, het die departement Du Toit ingelig dat net R2,8 miljoen van die ooreengekome bedrag aan hom betaal gaan word.
“Hulle het gesê volgens ’n klousule in die kontrak is die ooreenkoms onderhewig aan goedkeuring van die minister van landbou en die minister het dit nie goedgekeur nie. Ek het gesmeek by daai mense, ek het gesmeek met trane in my oë en gesê asseblief mense.”
Hoewel die departement en Du Toit die koopkontrak geteken het wat Du Toit se prokureur as “waterdig” beskryf het, het hy net R2,8 miljoen vir die plaas gekry.
“Dit was genoeg om my skuld op die plaas te betaal, maar ek het my sakeondernemings verloor en toe het ons niks oor nie.”
Sedertdien voer Du Toit en sy seuns ’n swerwersbestaan en doen los werkies om aan die lewe te bly.
Soms slaap hulle in die bakkie en wanneer hulle nie geld vir petrol het nie, verkoop hulle ’n besitting of twee om by die volgende dorp uit te kom. “Jy sal nie glo hoe moeilik dit gaan nie. Dit vat jou hele lewe lank om iets bymekaar te maak en ek het selfs met my skouer daarvoor betaal, nou het ek niks en hoe begin ek van hier af weer?”
Du Toit kan die prys wat die departement vir sy plaas betaal het in die hof betwis, maar sê hy het nie geld vir ’n hofsaak nie.
“Dis net R500 000 wat ek verloor het. Vir sommige mense is dit nie baie nie, maar vir my sou dit beteken ek kon my lewe oor begin het. Ek sou verstaan het as ek die plaas by my oupagrootjie se oupa geërf het wat bevoordeel is of die plaas verniet gekry het, maar ek het nie. Ek het duur betaal vir die plek.”
Beeld het Maandag berig oor meer as 400 boere wie se plase onteien is vir net sowat 60% van die markwaarde.
Tshepo Diale, woordvoerder van die departement, het gesê die regering hoef nie die markwaarde vir plase te betaal nie aangesien verskeie faktore in ag geneem word wanneer die prys bepaal word.
Dit strook met art. 25 van die Grondwet, hoewel die Grondwet bepaal die prys moet “billik” wees.

Meyer du Toit (52) en twee van sy seuns ry met ’n geleende bakkie deur die land op soek na werk nadat ’n grondeis skeef geloop het. Foto: NELIUS RADEMAN