Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Boer vry ná veedief se skietdood

Deur: Alta Snyman 2012-06-18 23:14
Swartruggens. – Byna 2½ jaar nadat ’n boer van dié distrik ’n vermeende veedief doodgeskiet het, is ontslag in die Kosterse landdroshof aan hom toegestaan.

Wilhelm Rochér, voorsitter van TLU SA se Wes-streek, sê sy lewe kan nou aangaan.

Voordat die landdros ontslag toegestaan het, het hy die polisie se swak ondersoekwerk genoem, sê Rochér. Verskeie belangrike aspekte is nooit ondersoek nie en die staat het geen bewyse gehad om die klag teen hom te steun nie.

Die skietvoorval het op 22 Januarie 2010 plaasgevind.

Die vorige dag is twee van sy beeste deur diewe geskiet en geslag. Die boere wou patrollie ry en hy het gesê hy sal die vroegoggendskof neem omdat sy beeste dié tyd geskiet is.

Rochér sê die voornagskof het skaars begin toe ’n boer laat weet die diewe het weer toegeslaan.

“Ons het dieselfde spore as by my gekry. Die spoor was maklik uitkenbaar, want die een band was pap.”

Werkers het ook genoem dat hulle ’n Toyota Venture in die veld gesien het. “En ons het die hele tyd na ’n bakkie gesoek!”

’n Rukkie later het die nuus gekom dat die verdagte voertuig langs die Bankdrif-pad staan.

Toe Rochér daar aankom, was van die ander boere daar.

“Toe ek stilhou, het ’n skoot geklap en ’n man het (tussen die bosse) uitgekom. Een van die ander boere het ’n verdagte (wat sedertdien skuldig bevind is) vasgehou.

“Ek het na die man wat uitgekom het, gegryp, maar hy het losgeruk en weggehardloop. Ek het waarskuwingskote geskiet en die man het oor ’n heining aan die linkerkant geklim.”

Nog skote is oor en weer afgevuur.

Die man wat probeer weghardloop het, is later dood gekry.

Rochér is die dag ná die voorval (’n Saterdag) in hegtenis geneem en in die polisieselle op die dorp toegesluit.

Die distrik het die 13 maande voor die voorval erg onder veediewe deurgeloop.

Minstens 90 dragtige koeie met ’n aanteelwaarde van sowat R1 miljoen teen 2010 se pryse is binne 13 maande deur diewe geskiet en geslag. Die week voor die voorval is 12 beeste só gesteel en die week van die voorval 15.

Die binnegoed, die fetusse van die ongebore kalwers en in sommige gevalle die koppe van die koeie is elders op die toneel agtergelaat.

’n Bejaarde boer was binne ’n jaar 33 van sy 55 beeste kwyt.

Rochér sê hy het sedert die skietery besef ’n mens moet glo. “Wanneer jy weet jy het nie verkeerd gedoen nie, moet jy glo.

“Ek het ook besef ’n mens het ’n verantwoordelikheid om jou goed binne die perke van die wet te beskerm.

“’n Mens moet jou ook nie laat intimideer nie.”
 
«Terug