Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Brande woed om Tzaneen

Deur: Marietie Louw-Carstens en Ügen Vos 2012-08-07 21:56
Verwoestende veldbrande het sedert eergister groot skade in die bergagtige gebied buite Tzaneen in Limpopo aangerig.

Die brandweer het na verneem word gister Huey-helikopters, wat tot 800 liter water op ’n slag kan stort, gebruik om die brande te bekamp.

’n Brandweerlid, wat nie genoem wil word nie, het gesê dit is een van die “ergste brande in jare” in die gebied.

Volgens die brandweerlid is sowat 17 verskillende veldbrande sedert eergistermiddag aangemeld, maar het die brandweer teen gisteraand met die uitsondering van drie die oorblywende brande in al die gebiede suksesvol bekamp.

“Tans is daar nog verskeie veldbrande in Deer Park, George’s Valley en Leobi,” het Hannes Steyn, hoof van die Mopani-distriksmunisipaliteit se rampbestuursentrum, gesê.

“Die brandweer is op die toneel en voorlopig lyk dit asof alles onder beheer is – maar dit is moeilik om met sekerheid te bepaal wat later sal gebeur, aangesien die kouefront nog besig is om in te kom.”

Volgens Steyn is die groot probleem dat ongeag die koue daar steeds ’n baie hoë windfaktor is wat die brande baie onvoorspelbaar maak.

Die sterk winde het gister die brande, wat meestal bosbou-plantasies verwoes het, aangeblaas. Na verneem word het honderde duisende hektaar plantasies en plase reeds in die slag gebly.

Inwoners van Tzaneen het gesê dit lyk sedert eergisteraand “soos iets uit ’n fliek” met brande wat om die dorp woed.

Steyn het gesê hulle probeer hul bes om die brande te blus. Hulle was teen druktyd nie bewus van enigiemand wat beseer of dood is nie en kon nie sê presies hoeveel hektaar verwoes is nie.
 

Duisende hektaar bosbou-plantasies het sedert eergister in ’n groot gebied buite Tzaneen in Limpopo afgebrand, waar verskeie paaie onbegaanbaar was weens die digte rook. Foto: Bulletin
«Terug