“Ek sal jou f****n bliksem!”
So het Gerhard Smalberger, afrigter van die Hendrina Gekombineerde Akademie (HGA) se eerste rugbyspan, ’n skeidsregter glo die naweek in ’n ligawedstryd toegesnou.
Hy het Dawie Burger glo ook aan die kraag beetgehad.
Smalberger was blykbaar omgekrap omdat die skeidsregter nie ’n moontlike oortreding raakgesien het nie.
Smalberger se seun, Jeandré (kaptein van die eerste span), het self sy pa vasgegryp en by hom gepleit om die veld te verlaat.
Die voorval was ten tyde van ’n ligawedstryd tussen HGA en die Morgenzon-landbou-akademie. Morgenzon was met 22-14 voor. Weens die voorval het Burger die wedstryd sowat vyf minute vroeg gestaak.
“Dit is nie die eerste keer dat ons probleme het by ’n wedstryd waar hy (Smalberger) teenwoordig is nie,” het Frans Joubert, waarnemende hoof van Morgenzon, gister gesê.
Joubert het reeds ’n brief aan HGA gestuur om te sê nie Smalberger of sy vrou (haar naam is onbekend) mag weer op Morgenzon se skoolterrein kom nie.
“Ek was besig om die wedstryd te verfilm toe ek die voorval op die veld sien. Die volgende oomblik het mev. Smalberger op my afgestorm en die kamera se lens toegedruk. Sy het voor my rondgedans, waarskynlik om te keer dat ek die voorval afneem,” het Joubert gesê.
Jannie van Aswegen, voorsitter van Morgenzon se beheerliggaam, het gesê die voorval was baie onsmaaklik. “Ek het self ’n skrams hou gekry toe ek tussenbeide probeer tree het.”
Arthur Williams, HGA se skoolhoof, het gister gesê hy kan nie kommentaar lewer omdat hy nie by die wedstryd teenwoordig was nie. “Ek sal eers na die video-opname kyk en daarna reageer.”
’n Klag oor die voorval is by die Mpumalanga-rugby-unie (Pumas) aanhangig gemaak.
Nollie de Beer, voorsitter van die Pumas se hoërskolevereniging, het bevestig dat hulle die klag na die moeder-unie verwys.
“In ag genome die onlangse voorval by die Valke-unie verkies ons dat die saak onpartydig gehanteer word. Daar sal hoogs waarskynlik tugstappe kom,” het hy gesê.
Smalberger het gister nie sy foon geantwoord nie.