KAAPSTAD. – Gee my dié vleis, dan braai ons dit almal saam sappig vir minderbevoorregte kinders.
So het die Olimpiese goue medalje-wenner Cameron van der Burgh gister vir Jan Scannell uitgedaag.
Scannell, wat miskien beter bekend staan as Jan Braai, het ’n bees of die ekwivalent daarvan in rooivleis aan elke wenner van ’n goue medalje belowe.
Hy is die man wat vir Nasionale Braaidag verantwoordelik is.
“Aangesien hy die meesterbraaier is, daag ek hom uit om dit op die lekkerste te braai, dan gee ons dit aan kinders wat dit die nodigste het,” het Van der Burgh gesê.
Van der Burgh het gesê die atleet L.J. van Zyl het aangebied dat die bees op sy plaas kan wei.
“Ek het daaroor gedink, maar het besluit om dit vir ’n goeie doel weg te gee.
“So kom ons braai dit lekker saam.”
Chad le Clos het gesê hy gaan sy bees in hul agterplaas hou.
“Ek gaan dit as ’n troeteldier aanhou. Ek is lief vir diere,” het Le Clos gesê.
Sy pa het vroeër ’n slaghuis besit.
Die liggewig-roei-viertal – Sizwe Ndlovu, Matthew Brittain, John Smith en James Thompson – het ook goud by die Spele gewen.
Hoewel die vier roeiers se medalje slegs as een tel, het Scannell besluit om vir elkeen van hulle ’n bees te gee.
“Dit het nie sin om dit in vier te sny nie. Dié manne het ’n uitstekende resies gehad.”
Volgens hom kos ’n bees ongeveer R7 000 en die kampioene kan ’n bees, of die ekwivalent (sowat 225 kg) in rooivleis kies.
Die roeispan kon nie teen druktyd bereik word nie.