Die afgedankte polisiehoof Bheki Cele gaan ’n video by die hooggeregshof indien om te toon regter Jake Moloi het “by tye vrolik gelag” tydens die Moloi-raad van ondersoek.
Cele het vandeesweek ’n lywige verklaring by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.
Cele, van Umhlanga Rocks, sê daarin hy is tans werkloos.
Hy vra die hof om sy afdanking in Junie as nasionale polisiehoof deur pres. Jacob Zuma tersyde te stel.
Zuma het Cele afgedank nadat die Moloi-raad van ondersoek bevind het Cele het nie die vermoë om die werk behoorlik te doen nie en sy afdanking aanbeveel het.
Die raad se verslag was na aanleiding van twee huurkontrakte ter waarde van miljoene rande vir hoofkantore vir die polisie.
Dié kantore is onderskeidelik in die Sanlam-Middestad-gebou in Pretoria en die Transnet-gebou in Durban.
Moloi, wat die raad se voorsitter was, is ’n regter van die Vrystaatse hooggeregshof.
Cele sê in die verklaring Moloi het tydens die ondersoek by tye vrolik gelag “wanneer hy ondersteuning uitgespreek het” vir ’n stelling wat gemaak is deur die span wat die getuienis gelei het.
Volgens Cele sal hy ’n video-opname van dié verrigtinge verskaf wat Moloi se houding in dié opsig weerspieël.
Cele sê voordat Zuma die raad se verslag openbaar gemaak het, het Moloi die inhoud in ’n radio-onderhoud op SAfm bekend gemaak.
Volgens Cele is die meeste van die basiese beginsels van regterlike etiek daardeur geskend.
Hy is omgekrap omdat Moloi ’n openbare platform gekies het om die verslag se inhoud te onthul nog voordat Zuma dit gedoen het.
Hy beweer Moloi het toe nuwe bewerings opgeroep wat nie in die ondersoek of verslag ter sprake was nie.
Volgens hom is die raad se bevindings fundamenteel foutief en moet die hof dit hersien.
Die raad se mandaat het veel verder as sy (Cele se) funksies en pligte as die polisiediens se rekenpligtige amptenaar gestrek, sê hy.
Hy meen Moloi en die raad het baie van die relevante getuienis voor hulle geïgnoreer.
Cele sê die raad het sy getuienis geïgnoreer oor die stappe wat hy gedoen het om misdaad te voorkom en te beveg.
Hy sê Zuma se besluit om hom af te dank is irrasioneel en/of arbitrêr.
Dit is verstommend hoe Zuma dít kon besluit “gegewe die uitstekende mylpale wat ek in die uitoefening van my kernfunksies bereik het”.
Zuma was irrasioneel om Cele se gevestigde geskiedenis in die algemene stryd teen misdaad in die land as een van die redes vir sy afdanking te beskou, lui die verklaring.