Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Cele wil sy naam in ere herstel

Deur: Maryna Lamprecht 2012-05-26 00:01
Selfs al word genl. Bheki Cele heraangestel as polisiehoof wil hy hof toe gaan om sy naam in ere te herstel.

So het Vuyo Mkhize, Cele se woordvoerder, gister gesê nadat regter Jake Moloi, voorsitter van die raad van ondersoek na Cele, bevind het die geskorste polisiehoof het nie die vermoë om die werk as polisiekommissaris behoorlik te doen nie en sy afdanking aanbeveel het.

“Cele gaan hooggeregshof toe, ongeag wat die president besluit. Die verslag is foutief en maak ’n klomp ongegronde en aanvegbare bewerings oor hom.

“Hy sal hof toe gaan oor sy reputasie. Dit gaan álles oor sy reputasie.”

Die verslag, na aanleiding van twee huurkontrakte ter waarde van miljoene rande vir hoofkantore vir die polisie in Pretoria en Durban, is verlede Vrydag aan pres. Jacob Zuma oorhandig en beveel aan dat hy van Cele ontslae raak.

Mkhize het gesê Cele is baie bekommerd oor sy reputasie.

“As hy nie hof toe gaan nie, sal 50?miljoen mense glo wat in die verslag staan.

“Wie ook al die verslag geskryf het, het die feite en bewyse nie goed oorweeg nie.”

Cele het regsadvies ingewin en is oortuig ’n hof sal van die kommissie verskil, het Mkhize gesê.

“Ek sal my kop op ’n blok sit dat die hof anders sal besluit,” het Mkhize gesê.

Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het bevestig ­Zuma het die verslag ontvang, maar gesê ’n besluit is nog nie geneem oor Cele se heraanstelling nie.

“Die president oorweeg nog die verslag en tot dan sal hy nie daaroor praat nie,” het hy gesê.

Dianne Kohler Barnard, DA-LP, het gesê die DA eis dat Cele onmiddellik afgedank word.

Adv. Nkosi­nathi Nhleko, direkteur-generaal van arbeid, word glo oorweeg as opvolger vir Cele.

Nhleko is ’n KwaZulu-Nataller en ’n lojale Zuma-ondersteuner.

Volgens Kohler Barnard sal dit rampspoedig wees as Nhleko aangestel word aangesien hy geen ervaring in die polisie het nie.

Sy het gesê die volgende polisiekommissaris moet die vereiste kwalifikasies hê, ervaring in die polisiediens en in bestuur, asook ’n onkreukbare reputasie.

«Terug