Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Dié skip vaar goed in ys

Deur: Hanlie Gouws 2012-12-23 21:37
Kaapstad. – “Dis ’n kragtige vaartuig dié. Hy het gesny deur ys wat die ou skip nie eens sou probeer pak het nie.”

So het Knowledge Bengu, die ysloods op die SA Agulhas II, die ysbreekkapasiteit van dié nuwe poolskip beskryf.

Dit is die skip se eerste vaart na die yswal van Antarktika en Bengu se eerste in dié rol.

Die vrag wat na die Suid-Afrikaanse basis Sanae IV geneem word, is reeds afgelaai by Nordanleger naby die Duitse basis Neumayer.

Die SA Agulhas II gaan nou na RSA Bukta, waar die duisende liters diesel afgelaai word.

“Ons het ’n goeie vaart in die ys gehad van 60° suid tot 69° suid en van daar het ons diggepakte ys begin kry,” het Bengu gesê.

“Dis baie anders as verlede jaar se ys.”

Bengu het sedert 2003 op die ou SA Agulhas gewerk en was eerste offisier op verlede jaar se ysvaart.

“Dis opwindend om ysloods te wees, maar ek mis dit soms om eerste offisier te wees!” het hy gesê.

Die projekbestuurder van die SA Agulhas II, wat ’n suksesvolle vaart na Gough-eiland agter die rug het, is baie tevrede met hoe die skip in die ys gevaar het.

“Plek-plek het hy deur ys van tot 2 m dik geploeg,” het Alan Robertson gesê.

Die skip het wel vasgesit. “In ’n stadium het dit 40?uur gevat om 2?myl af te lê.”

Sodra die diesel van die skip afgepomp is, vertrek hy na die Suid-Sandwich-eilande om weerboeie af te laai en oseanografiese navorsing te doen.

Die skip, met die ou jaarspan, Sanae 51, aan boord, word op 19 Februarie in Kaapstad terug verwag.


Die SA Agulhas II Vrydag by Nordanleger aan die yswal van Antarktika waar die honderde ton vrag afgelaai is. Foto: Andrew Schofield
 
«Terug