’n Prokureur en gewese baas van die Skerpioene wat weens diefstal van trustgeld tronk toe gestuur is én op omstrede wyse met pres. Jacob Zuma en lt.genl. Richard Mdluli, die polisie se geskorste spioenbaas, verbind word, word vir ’n belangrike regeringspos oorweeg.
Booker Nhantsi is getroud met adv. Nomgcobo Jiba, waarnemende hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG).
Dr. Nghamula Nkuna, waarnemende personeelhoof van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê die departement praat met Nhantsi om hom aan te
stel as regsadviseur. “Hy is ’n moontlike kandidaat.”
Nhantsi het voorheen as prokureur gewerk en was ook adjunk-direkteur van die Skerpioene in die Oos-Kaap.
Hy is in 2005 skuldig bevind aan diefstal nadat hy R193 000 uit ’n kliënt se trustfonds gesteel het. Die hooggeregshof in Mthatha het Nhantsi tot vyf jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee jaar opgeskort is.
In September 2010 het pres. Jacob Zuma sy misdaadgeskiedenis geskrap.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het toe gesê Nhantsi is kwytgeskeld in “ ’n gebaar van genade” van Zuma omdat hy glo hy kan nog bydraes tot die samelewing lewer.
Jiba het noue bande met Mdluli. Mdluli het Jiba in 2007 uit die moeilikheid gehelp nadat sy daarvan beskuldig is dat sy die polisie glo gehelp het om ’n inhegtenisnemingsbevel teen adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, te kry.
Nel was betrokke by die ondersoek en skuldigbevinding van Nhantsi en het die saak teen die oudpolisiebaas Jackie Selebi gelei.
Jiba het glo ook die polisie gehelp om Selebi teen vervolging te beskerm en is destyds daaroor uit die NVG geskors.
Nkuna het gesê die departement weet Nhantsi het voorheen ’n misdaadgeskiedenis gehad. Ander kandidate word ook vir die pos oorweeg en ’n besluit is nog nie geneem nie.
Mdluli het verlede week ’n kennisgewing van die polisie gekry waarin hy ingelig word oor die polisie se planne om hom wéér te skors nadat hy in ’n ander polisiepos aangestel is.