Londen. – Sy was aanvanklik onseker of sy genoeg gedoen het om ’n medalje te wen en toe haar naam wel ná ’n paar pynlik lang oomblikke op die bord verskyn het, het sy steeds gedink daar is dalk ’n fout.
“Maar toe ek besef dis reg, ek het genoeg gedoen om ’n medalje te wen en ek het die brons, het dit kompleet gevoel asof ek goud gewen het,” het die kanovaarder Bridgitte Hartley gister laggend tussendeur trane van blydskap gesê.
Hartley het Vrouedag gevier deur Suid-Afrika se vyfde medalje van die Olimpiese Spele in Londen – en die land se eerste brons – in die eindronde van die K1-kajakren oor 500 m te wen.
Die 29-jarige Richardsbaaier was in die wolke ná ’n resies waarin sy “seerder as ooit tevore” gehad het, maar met ’n tyd van 1 minuut en 52.923 sekondes derde geëindig het.
Die Hongaar Danuta Kozak het in 1:51.456 gewen en die Olimpiese kampioen van 2008, Inna Osypenko-Radomska, was tweede met 1:52.685.
“Dit was regtig baie moeilik. Dit was asof ek elke haal kon voel,” het Hartley gesê. “As jy nou vir my vra waar die pyn was, kan ek nie eens vir jou sê nie, al wat ek onthou is hoe seer dit was en hoe ek myself moes aanpraat daardeur.
“Ek het geen idee gehad waar in die resies ek was nie, maar ek het vir myself gesê om net aan te hou en nie te stop voor ek oor die lyn is nie.
“En daarna het dit ’n klomp sekondes gevat voor hulle gewys het wie tweede en derde was en ek was steeds nie onmiddellik seker of ek my hande in die lug kon gooi nie.”
Hartley het gesê sy was waarskynlik meer senuagtig as ooit tevore, aangesien dit nie net die grootste eindronde van haar loopbaan was nie, maar ook die eerste keer dat sy in baan 5 (of soos sy daarna verwys, die baan waarin die gunsteling gewoonlik is) weggespring het.
“Ek was baie ontspanne voor my uitdun en my halfeindronde, maar dié keer het ek heeltemal anders gevoel.
“Ek het heeltyd tydens my opwarming vir myself probeer sê: ‘Jy gaan goed doen,’ maar dan was daar ’n klein stemmetjie wat gesê het: ‘Soos jy nou die spaan gebruik, gaan jy nie eers die kajak aan die beweeg kry nie.’
“Ek het gisteraand (Woensdag) baie sleg geslaap. Ek het al 22:00 aan die slaap geraak, maar was toe weer 02:00 wakker en moes musiek luister om weer weg te dommel. En toe word ek 05:00 weer wakker en verbeel my ek hoor stemme, terwyl daar nie was nie.
“Dit was baie moeilik om my senuwees te beheer,” het Hartley erken.
Hartley het gesê die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die SA kanovaart-federasie het ’n groot rol gespeel in die waar word van haar grootste droom.
“Die federasie het gesê ek moenie huiwer om te vra as ek enigiets kortkom nie en ek het geld van Saskok en die IOK gekry om oorsee te reis vir oefenkampe en kompetisies. Ek het regtig niks gekort nie.”
Hartley het met dié sukses die eerste vroulike Suid-Afrikaner in 12 jaar geword wat ’n Olimpiese medalje wen.
Die uitslag het die SA chef de mission, Patience Shikwambana, ook laat oorloop van selfvertroue oor die kanse van Sunette Viljoen, wat ná druktyd goud in die eindronde van die spiesgooi gejag het, asook Caster Semenya, wie se 800 m-halfeindronde ook ná druktyd gehou is.

Die trane die rol oor jou, Bokkie! Bridgitte Hartley op die podium nadat sy derde gekom het in die K1-kajakren oor 500m vir vroue. Foto: Gavin Barker/BackpagePix