Beeld

Dít lei tot slagting

Deur: Hilda Fourie en Jan de Lange 2012-08-17 23:07
Polisie sê

‘Ons móés skiet; ons is aangeval’

Marikana. – Lugfoto’s wys hoe duisende betogers by Lonmin se Marikana-myn eergister op polisielede, wat agter doringdraad was, afgestorm het.

Kort daarna was 34 betogers dood en meer as 78 beseer in die sogenaamde Lonmin-bloedbad.

Na verneem word, het die polisie die doringdraad tussen die koppies waar die betogers vergader het en die plakkerskamp opgerig om die inwoners te beskerm.

Toe die sowat 3 000 betogers uit die koppies kom en op die 423 polisielede afstorm, het die polisie die doringdraad gebruik om hulself te beskerm.

Soos die geveg begin het, het die betogers minder geword en minstens 1 000 was in die skietgeveg betrokke.

Volgens genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, het die polisie waterkanonne, traangas en skokgranate gebruik om die groep uiteen te jaag en terug te dryf na waarvandaan hulle gekom het, maar dit was onsuksesvol.

“Die militante groep het die polisie bestorm. Hulle het skote afgevuur en hul gevaarlike wapens geswaai. Die polisie het teruggeskiet en maksimum geweld gebruik om hulself te beskerm.”

Toe die waterkanonne, skokgranate en traangas nie help nie, het die polisie se eenheid vir openbare orde met rubberkoeëls op die groep losgebrand.

Toe die groep met skerp ammunisie op die polisie skiet, het die polisielede teruggehardloop na hul Njalas en die diens se volgende verdedigingslyn het met skerp ammunisie op die groep geskiet.

Na verneem word, is meer as 400 doppies op die toneel gevind.

Ses vuurwapens is ook gekry. Daaronder was die dienspistool van een van die polisielede wat Maandag vermoor is. Talle gevaarlike wapens, waaronder spiese, assegaaie en pangas, is ook gevind.

“Die polisie het alles in sy vermoë gedoen om die voorval te voorkom,” het Phiyega gister op ’n mediakonferensie gesê.

Pres. Jacob Zuma het die gebeure as skokkend en onaanvaarbaar beskryf.

Hy gaan ’n kommissie van ondersoek daarna aanstel.

Phiyega het gesê ná die gebeure vroeër vandeesweek waarin minstens tien mense dood is, onder wie twee polisielede – ao. Tsietsi Hendrik Monene van Mpumalanga en ao. S.R. Lepaaku van Noordwes – wat met pangas doodgekap is, het die polisie sy sigbaarheid eergister verhoog.

Die polisie het ook waterkanonne opgestel en doringdraad opgerig vir ingeval die betogers gewelddadig raak.

Altesame 259 mense is in hegtenis geneem. - Hilda Fourie


Genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof. Foto: Kopano Tlape

Stakers sê:

‘Lonmin wou nie met ons praat’

Die groep van 3 000 stakende rotsbooroperateurs van Lonmin was bereid om hul wapens neer te lê en daarsonder die klipkoppie waar hulle geskuil het te verlaat, mits Lonmin bereid was om oor loonverhogings te onderhandel.

Hulle het dié onderneming Woensdagaand aan Joseph Mathunjwa, president van die Associated Mining & Construction Union (Amcu), gegee.

Mathunjwa en twee van sy vakbond se ampsdraers was drie keer op die koppie waar die rotsbooroperateurs hulself verskans het – die eerste keer onder polisiebegeleiding, maar die tweede en derde keer op hul eie om die werkers mee te deel dat hul werkgewer geen ondernemings aan hulle gee nie en dat hulle hul wapens moet neerlê en die koppie verlaat.

Die stakende werkers het die onderneming Woensdagaand ná donker aan Mathunjwa gegee.

Hy het dit dieselfde aand in die polisie se bevelspos naby die koppie oorgedra, waar ooreengekom is dat Lonmin se bestuurders hom die volgende oggend omstreeks 08:00 opdragte oor die hervattingsprosedures sou gee wat hy aan die werkers kan oordra.

Die volgende oggend was die bestuurders, Barnard Mokwena en Jomo Kwadi, aanvanklik nêrens te vinde nie.

Toe hy ure later met hulle kon praat, was hulle nie bereid om enige ondernemings oor toekomstige onderhandelinge deur die bestaande vakbondstrukture van die National Union of Mineworkers (NUM) te gee nie.

Mathunjwa se emosies het tydens die vertelling verskeie kere die oorhand oor hom gekry – veral toe hy begin vertel hoe hy ná ure se gesukkel en besluitloosheid deur Lonmin se menslikehulpbron-afdeling, verwyte en ’n verskreeuery deur toppolisie- offisiere eergistermiddag op sy eie terug is na die koppie waar die stakers gewag het om aan hulle te gaan vertel dat die bestuur geen ondernemings aan hulle gee nie.

“Ek het op my knieë by hulle gepleit: ‘Asseblief, kom weg van dié plek af ... hierdie mense gaan julle doodmaak ...’” het Mathunjwa gesê en weer begin huil.

“Hulle het gesê hulle gaan nie die koppie verlaat nie – as hulle doodgemaak word, moet die polisie dit daar kom doen waar hulle wag,” het Mathunjwa vertel.

Mathunjwa het benadruk dat die twis oor verteenwoordiging ’n interne saak in die NUM is en dat Amcu geen formele verteenwoordiging in Lonmin se Marikana-afdeling het nie.

Mathunjwa het die koppie verlaat nadat hy nie die werkers kon oorreed nie. Hy het nie die skietery sien gebeur nie. - Jan de Lange


Mathunjwa, Amcu-baas, gister op ’n mediakonferensie.

Waarskuwing: die video wat volg, bevat grafiese materiaal.

«Terug