Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Video: Dit sneeu! Ons trou!

Deur: Verslagspan 2012-08-07 21:56
"As dit weer in Johannesburg sneeu, dan trou ons.”

Só het Monique Joubert haar verloofde, Rui Moca, twee jaar gelede belowe net nadat hy haar gevra het om te trou.

Toe sneeu dit gister. Toe trou hulle. Skielik. En nou is sy mev. Moca.

Dit het gister sommer in al nege provinsie in die land gesneeu, selfs in Limpopo. Volgens Kenosi Machepa van die SA Weerdiens (SAWD), is dit die eerste keer in Suid-Afrika se aangetekende geskiedenis.

Dié sneeutroue was g’n gewone affêre nie. Die paartjie het gister om 18:30 in Jacaranda FM se ateljee getrou.

Monique se sussie, Laurika, het dié radiostasie vertel van haar sussie se destydse belofte aan haar kêrel. Hulle het binne drie uur ’n trourok, ’n pastoor, ’n koek en, les bes, ’n wittebrood gereël.

Pastoor Francois Joubert het die egpaar op die Afternoon Drive op ­Jacaranda FM 94.2 getrou.

Monique se hele gesin was in die ateljee om dié “sneeusprokie” gade te slaan. Rui se gesin het op die internet in Portugal na die hele uitsending geluister.

“Dit is crazy! Ek het nie gedink dit gaan sneeu in Johannesburg nie,” het Monique net ná die troue gesê.

“Dit voel ongelooflik om getroud te wees.”

Dié paartjie van Edenvale aan die Oos-Rand was van plan om in April volgende jaar te trou.

“Maar toe sneeu dit.”

Johannesburg het in 2007 laas verspreide sneeuneerslae gekry en voor dit het die sneeu in 1981 op plekke 20 cm diep gelê.

Die omgewing het in 1909 laas sneeu so diep as 40 cm gekry.

Machepa het gister gesê dit is ook die eerste keer sedert die laat 1960’s dat dit in Pretoria sneeu.

Swaar sneeuneerslae het in die KwaZulu-Natalse Middelland en die Noordoos-Vrystaat geval.

Golden Gate het die meeste sneeu in ses jaar gekry en op die Vrystaatse dorp Bethlehem, waar die sneeu tot 70 cm dik gelê het, het die skole weens die gure weer gesluit.

Die Mpumalanga-Hoëveld het ook sneeu gekry terwyl agt veld- en bosbrande aan die anderkant van die provinsie in die Laeveld gewoed het.

In Noordwes het sneeu geval en in Limpopo het Bela-Bela en distrik plek-plek ’n bietjie sneeu gesien. Satellietfoto’s wys Limpopo se hoogliggende gebiede het ook sneeu gekry.

Volgens die SAWD het dit so wyd verspreid gesneeu omdat die kouefront ’n afsny-laedrukstelsel in die boonste atmosfeer en ’n oppervlak-hoëdrukstelsel agtergelaat wat gister koue, vogtige lug oor byna die hele land versprei het.
Die Van Reenenspas op die ­N3-hoofweg was gister weens die sneeu gesluit, maar is later weer oopgestel.

Eskom het in ’n verklaring gesê die koue weer verhoog die aanvraag na elektrisiteit, maar die verskaffer is glo gereed en die land stuur nie op ’n energiekrisis af nie.

“Daar is meer druk op die stelsel weens die koue weer, maar daar is nie ’n gevaar dat beurtkrag ingestel gaan word nie,” het Hillary Joffe, Eskom-woordvoerder, gistermiddag by navraag gesê.

Volgens provinsiale en private nooddienste was daar net in Wynberg, Johannesburg, ’n ernstige ongeluk waarin vyf mense beseer is.

Sosiale netwerke het gister gegons van mense oor die hele land wat foto’s van ligte sneeu uitgeruil het.

Toe dit omstreeks 12:00 gistermiddag in Johannesburg begin sneeu het, was die strate vol mense wat ’n vroeë middagete geneem het om mekaar met hul selfone in die sneeu af te neem.

By ’n Audi-handelaar naby die Nelson Mandela-brug het studente hul name in die sneeu op die deftige motors geskryf en twee het op ’n ander motor se dak ’n klein sneeuman gemaak.

– Piet Matipa, Pauli van Wyk, Fanie van Rooyen, Buks Viljoen, Elise Tempelhoff, Jani Meyer, Ügen Vos, Janice Keogh, Jinine Botha, Susan Cilliers.




 
«Terug