Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Div pak uit oor seksvideo, Hoskins, rugby

Deur: Pauli van Wyk 2012-05-26 00:04
Rugby was nie die opofferings werd wat hy moes maak nie, skryf Peter de Villiers, gewese Bok-afrigter, in sy outobiografie.

De Villiers onthul in Politically Incorrect Cheeky Watson, Oostelike Provinsie se rugbybaas, en Cedric Frolick, ANC-LP, was die baasbreine agter die destydse video wat glo wys hoe hy seks het met ’n vrou in ’n parkeerterrein.

Dit was glo omdat hy geweier het om Luke Watson, Cheeky se seun, Bok-kaptein te maak.

Hoewel dié video nooit aan die lig gekom het nie, het dit byna Div se loopbaan ontspoor en ’n slegte impak op sy familie­lewe gehad. “As jy jou 80-jarige ma in trane sien, kan jy nie help nie as om te wonder of als die moeite werd is.”

Sy dogter, Odile, was toe in gr.?11. Haar punte het van ’n B-gemiddeld tot ’n D gedaal omdat sy voortdurend gespot is.

“Ek het besef daar is baie mense wat steeds nie ’n swart afrigter wou hê nie,” skryf hy.

De Villiers skryf Frolick het gesê hy wil “eerder ’n wit afrigter hê wat hy kan beheer, as ’n swart afrigter wat weier om te luister”.

Volgens De Villiers het hy Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, gevra om die seksvideo-sage te ontrafel, maar dit het nie gebeur nie en dit hang tot vandag toe in die lug.

“My loopbaan (as afrigter) het taamlik sleg begin,” skryf De Villiers.

“Die provinsiale presidente was nie gelukkig met die besluit van die tegniese komitee (om hom aan te stel) nie en het besluit om self te stem.”

Dít nadat hy reeds van sy ­nuwe pos ingelig is. Hy het uiteindelik met 11 stemme teenoor 10 in sy pos beland.

De Villiers skryf hy het volgens ’n streng morele kode geleef wat hom geliefd gemaak het onder die spelers en sommige kollegas, maar hom ook gereeld in die pekel laat beland het.

“Ek het grootgeword met die geloof dat jy moet staan vir dit waarin jy glo.”

Hy skryf ook reguit oor sy stormagtige verhouding met Hoskins, wat van die begin af moeilik was toe dié in die openbaar gesê het hy is nie net om rugbyredes aangestel nie, maar danksy die kleur van sy vel.

Hy het nooit weer “respek en vertroue” in Hoskins gehad nie.

“Dis moeilik om vir mense te werk wat jy nie vertrou nie.

“Ek was baie naïef,” skryf De Villiers herhaaldelik.

«Terug