Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘ET verkrag my vier keer’

Deur: Susan Cilliers 2012-08-20 23:08
Ventersdorp. – “ ’n Dag van sonde.”

Dis hoe Chris Mahlangu die dag in April 2010 toe hy ­Eugène Terre’Blanche doodgeslaan het, aan ’n sielkundige beskryf het.

Hy wonder ook of die AWB-leier wat hom glo vier keer met ’n wapen teen die kop verkrag het, die persoon was wat hom met die MI-virus besmet het, het hy aan die sielkundige gesê.

Die sielkundige, Henk Swanepoel, het gister hieroor getuig in die rondgaande hof in Ventersdorp waar voorvonnisverrigtinge begin het.

Swanepoel het sy sielkundige verslag oor Mahlangu voltooi voordat uitspraak in die saak gelewer is. Adv. George Baloyi, vir die staat, het Swanepoel gister gekap omdat hy die verslag nie intussen aangepas het nie.

Swanepoel het in sy verslag Mahlangu se verweer wat die hof as leuens verwerp het, herhaal: dat hy uit selfverdediging opgetree het en die AWB-leier hom gesodomiseer het.

Die hof het op grond van forensiese getuienis bevind Terre’Blanche het op sy bed gelê toe hy aangeval is en dat hy nie kans gehad het om homself te verdedig nie.

Swanepoel het toegegee sy verslag is wat dit betref verouderd, maar gesê die bevindings van die persoonlikheidstoetse geld steeds.

Dit het gewys die laag geskoolde Mahlangu is onintelligent, ongesofistikeerd, onvolwasse, dat hy maklik gefrustreerd raak en emosioneel oppervlakkig oorkom.

“Hy sê hy voel sleg oor die moord,” het Swanepoel getuig.

Volgens hom het Mahlangu swak beheer oor sy drange en is sy sosiale vaardighede gebrekkig.

Sy “lae intellektuele vermoë”, tesame met die baie alkohol wat hy op die moorddag gedrink het, kon sy oordeel aan­getas het.

Die hof het gister ook gehoor Mahlangu het as tuinwerker by Terre’Blanche maar R10 per dag verdien en R6 per dag wanneer hy vee opgepas het.

Werkers is soms glo net met sigarette en drank betaal.

Twee maande voor die moord op Terre’Blanche is ’n opgeskorte vonnis weens ’n ander huisbraak aan Mahlangu opgelê.

Mahlangu se medebeskuldigde, Patrick Ndlovu, is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel.

Ndlovu se uitwysings en erkennings is nie toegelaat nie omdat sy regte as minderjarige destyds geskend is.


«Terug