Vir die eerste keer in 60 jaar deel die St. Lucia-meer en die iMfolozirivier één mond.
Volgens Andrew Zaloumis, uitvoerende hoof van die iSimangaliso-vleilandpark, loop die iMfolozirivier nou in die St. Luciameer in en enkele meters daarvandaan mond die meer in die see uit.
“Vir dié unieke ekostelsel aan die KwaZulu-Natalse noordkus beteken dit ná 60 jaar sal dit hopelik weer funksioneer soos wat dit hoort.”
Totdat die iMfolozirivier sowat twee weke gelede met die St. Luciameer verbind is, het dié stelsel ernstige hidrologiese probleme ervaar.
Suikerboere het die St. Luciameer en die iMfolozirivier in 1952 doelbewus van mekaar geskei en die rivier sodoende as’t ware gedwing om in die see, pleks van in die meer, uit te mond.
“Dit het ernstige gevolge vir die natuurlike dinamiek van die meer en die rivier se monding gehad.”
Dié inmenging het ook ’n reuse-vloedvlakte tussen die meer en die rivier laat opdroog.
Dié faktore, saam met droogtetoestande wat van 2002 tot 2010 geheers het, het daartoe gelei dat die mond van die St. Luciameer vir die grootste deel van dié agt jaar toe was.
Die meergebied het dus in der waarheid ’n geslote stelsel geword en die mond, ’n natuurlike broeiplek vir skaaldiere en verskeie visspesies, het sy rol verloor.
“Ons uiteindelike doelwit met die herstel van die St. Luciameer is om die iSimangaliso-wêrelderfenisgebied natuurlik te laat funksioneer – sonder gedurige inmenging van die mens.
Die iMfolozirivier het sedert begin vanjaar natuurlik in die rigting van die St. Lucia-meer gemigreer en die bestuurspan van die iSimangaliso-vleilandpark het die rivier oor die laaste 300 m ‘gehelp’ om by die meer uit te kom.”
iSimangaliso en Ezemvelo KZN Wildlife het ’n stootskraper gebruik om dié twee waterbronne met mekaar te verbind. Volgens Zaloumis is dié proses noukeurig deur spesialiste en ekoloë gemonitor.
Die St. Luciameer se mond sal hopelik in die toekoms weer op ’n natuurlike manier, op sekere tye en in seker omstandighede, oop- en toegaan, sê Zaloumis.
Die Global Environment Facility (GEF) het twee jaar gelede $9 miljoen (sowat R72 miljoen) vir die bestuur en herstel van die iSimangaliso-vleilandpark geskenk.
’n Deel van dié geld is gebruik om die rivier en die meer weer te verbind.

VOOR: Op dié foto kan duidelik gesien word hoe die iMfolozirivier in die see uitmond. Suikerboere het ’n deel van die rivier (heel links) in die vroeë 1950’s toegegooi om te keer dat dit in die St. Luciameer uitmond. Hulle het toe ’n kanaal gegrawe en die iMfolozi gedwing om in die see uit te mond.

NA: Op dié foto kan gesien word hoe die iMfolozirivier weer by die St. Luciameer aansluit. Die rivier mond nou vir die eerste keer in 60 jaar weer in die St. Luciameer uit en die meer mond in die see.