Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘Ek was verkeerd’

Deur: Jeanne-Marié Versluis 2012-08-20 23:08
Kobus Pretorius, die Boeremag se “meester-springstofvervaardiger”, het gister in die hooggeregshof in Pretoria “elke persoon wat verliese gely het” weens sy optrede, om verskoning gevra.

“Ek was verkeerd” en “Ek is jammer” het hy in ’n verklaring gesê.

Regter Eben Jordaan het Pretorius gister aan hoogverraad skuldig bevind.

Al 20 Boeremag-beskuldigdes is nou daaraan skuldig bevind omdat hulle ’n gewelddadige staatsgreep beplan het.

Jordaan het gesê Pretorius het wekkers op plankies gemonteer.

Dít sou tydskakelaars vir die bomme wees.

Daar is ook wasgoedpenne op die plankies aangebring.

Pretorius moes weet van die tuisgemaakte petrolbomme (waarvan daar sowat 48 was), asook van die wapens en patrone.

Hy moes geweet het van die groot hoeveelheid springstof in sy bakkie.

Toe die Boeremag se konvooi in September 2002 na Alexandra vertrek het om terreurdade te pleeg, het Pretorius ’n vragmotor met wapens en patrone bestuur.

Hy moes dus “die vrag geken het”. Deon Crous, ’n staatsgetuie, het getuig Pretorius het gesê hy (Pretorius) het aan sy skoonpa gesê “dat hy nie bereid is om op te hou met dit waarmee hy besig is nie” en dat “dit ’n opdrag is”.

Nadat van die Boeremag-lede in hegtenis geneem en ander hulself aan die owerhede oorgegee het, het ’n groepie lede gevlug en voortgegaan om terreurdade te beplan.

Dié groepie, wat springstof in ’n huis in East Lynne, Pretoria, gemaak het, was verantwoordelik vir onder meer die Soweto-bomme wat einde Oktober 2002 ontplof het.

Jordaan het gesê Pretorius was “in beheer” van die springstofvervaardiging in dié huis.

Pretorius het ’n skets geteken van ’n brug in Soweto waar hulle ’n bom sou plant.

Pretorius was gekant teen ’n voorstel dat hulle ’n meganisme op ’n treinspoor plant wat sal ontplof wanneer ’n trein daaroor ry.

Pretorius het gesê hy stem nie met dié plan saam nie, want wit treindrywers sal doodgaan wanneer dit ontplof.

Crous en Pretorius het in dié huis aan Jacques Jordaan (ook ’n beskuldigde) gesê hy moenie net daar rondsit nie, hy moet help springstof maak.

As meester-springstofvervaardiger het Pretorius die resep verfyn met diesel en kunsmis.

Die regter het gesê Pretorius was bo redelike twyfel betrokke by misdadige aanvalle op burgerlike teikens.

Hy was ook die samesteller van die bom wat oudpres. Nelson Mandela sou laat sterf en het aan die ander groeplede verduidelik hoe dié bom werk.

Hy het ook bomme geplant.

Die regter het Dinsdagoggend die verrigtinge tot aanstaande Maandag uitgestel.
«Terug