Die 5FM-aanbieder Gareth Cliff het gister, nadat die uitvoerende vervaardiger van sy oggendprogram geskors is, die f-woord op die sosiale netwerk Twitter laat vlieg.
Cliff het Dinsdagoggend deur Twitter laat weet dat Thabo Modisane vir ’n week geskors word, omdat een luisteraar gekla het omdat die f-woord duidelik hoorbaar was in ’n klankgreep wat tydens dié program gebruik is.
“Let’s get #Fuck trending on Twitter this morning. I’m so tired of this childish attitude some people have to swearing,” het Cliff later getwiet.
Cliff het op die lug gedreig om nie Donderdag of Vrydag vir werk op te daag nie en het verskeie kere deur die loop van die dag die f-woord op Twitter gebruik.
Cliff het omstreeks 13:00 op sy Twitter-rekening beweer dat @GarethCliff, @ThaboModisane en #Fuck op Twitter van die drie gewildste onderwerpe in die hele Suid-Afrika was (trending).
“Kyk hoeveel mag het julle: Welgedaan! You #fucking rock,” het Cliff by ’n foto van die drie onderwerpe se gewildheid gesê.
Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het Cliff ook onlangs ondersoek, nadat hy op 4 Junie op sy ontbytprogram ’n vrou wat ingebel het om haar mening oor M-Net se Idols-program (waarvan Cliff ’n beoordelaar is) te lug ’n “bitch” genoem het.
Cliff het die vrou op 6 Junie as “dear bitch” aangespreek, in ’n poging om haar sover te kry om hom terug te skakel.
5FM het later aangevoer die vrou se waardigheid is nie geskend nie omdat sy nie geïdentifiseer is nie.
UKKSA het verlede maand beslis dat Cliff dié woord op ’n “speelse en dramatiese manier” gebruik het en die klagte van die hand gewys.
Rina Bloomberg, Cliff se woordvoerder, was nie gister op haar selfoon bereikbaar nie.