Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘Gesprek kon Spear-bom dalk ontlont’

Deur: Maryna Lamprecht 2012-05-26 00:04
Die debakel oor The Spear kon waarskynlik voorkom gewees het as die regering met die Goodman-galery vergader het voordat die bom oor Brett Murray se omstrede skildery gebars het.

So het Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, gister in die Sandtonse Kunsgalery

gesê waar hy die Afrika- Kulturele Renaissance-manifes onderteken het.

Die manifes is ’n ooreenkoms tussen Afrika-lande om die kultuur van minderheidsgroepe te beskerm en te bevorder.

Mduduzi Mbada, Mashatile se spesiale raadgewer, en Liza Essers, eienaar van die Goodman-galery, sou op 15 Mei vergader het nadat die departement Essers in kennis gestel het van ontevredenheid in regeringskringe oor Murray se uitstalling.

Mbada het dit op die nipper gekanselleer weens ander verpligtinge en die vergadering het nooit plaasgevind nie.

Twee dae later het die bom gebars toe die ANC aangekondig het dat hy die galery hof toe gaan sleep as die skildery nie verwyder word nie.

Mashatile het erken ’n vergadering kon ’n verskil gemaak het. “Dit kon anders hanteer gewees het as die vergadering plaasgevind het. Ek is seker dat ons in die toekoms eerder kan praat oor kuns (as om hof toe te gaan), want kuns is ’n belangrike komponent van die sosiaal-ekonomiese lewe en baie gesprekke gaan nog nodig wees.

“Ons as regering is nie gekant teen kreatiwiteit nie. Dit is nie ons bedoeling om enigiemand te sensor nie. Kunstenaars moet hul werk doen en kreatief wees, maar dit moet in die raamwerk van respek vir ander gebeur.”
Kunstenaars kan mense nie soos objekte behandel nie, het hy gesê.

“Of jy ’n kunstenaar of ’n skrywer is, moenie jou talent gebruik om te beledig nie. Geniet die vryheid van uitdrukking, maar hou by die konsep van ubuntu.”

Essers het gesê sy glo ook ’n vergadering tussen die departement en die galery kon sake verander het.

“Die departement kon ’n tussenganger gewees het in die dialoog tussen ons en die ANC en die ongelooflike vlak van seerkry en woede kon verhinder gewees het.”

Sy het gesê die saak sou waarskynlik in elk geval in die hof geëindig het, maar gesprekke sou verhinder het dat die kwessie handuit ruk.
«Terug