Een van twee mans wat Sondagmiddag glo die bestuurder van ’n afleweringsvoertuig in Diepsloot doodgeslaan het, sal na verwagting vandag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van moord en kwaadwillige saakbeskadiging.
Die voertuig se bestuurder het glo kort voordat hy aangeval is ’n vrou en kind in Sapphirestraat omgery.
Zukiswa Alarm (42) het erge kop- en rugbeserings in die ongeluk opgedoen. Haar vierjarige kleindogter, Nelisiwe, se hand is ook erg beseer.
Die Daily Sun het Dinsdag ’n foto op sy voorblad gehad wat wys hoe twee mans net ná die ongeluk die 51-jarige bestuurder onder meer met klippe gooi en hom skop en slaan.
Omstanders het vertel hoe die twee mans die bestuurder “soos ’n sokkerbal geskop het” en “asof hulle op ’n springkasteel was” op hom gespring het.
Volgens die koerant het die aanvallers die bestuurder gegryp toe hy van die toneel probeer vlug het en die voorruit van sy wit Hyundai-afleweringsvoertuig met klippe uitgegooi.
Hulle was glo ook van plan om hom lewend aan die brand te steek, maar die polisie kon dit verhoed omdat hulle toe op die toneel opgedaag het.
Die bestuurder van die afleweringsvoertuig is later met erge kopbeserings in die Tembisa-hospitaal opgeneem waar hy later dood is.
Volgens ao. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, het een van die vermeende aanvallers hom Woensdag aan die polisie oorgegee kort nadat hulle hom by sy huis gaan soek het.
“Die net was besig om stywer om hom te span en hy het besef dat daar geen wegkomkans is nie.”
Die polisie is nou op die spoor van die tweede verdagte en sal dié man na verwagting ook binnekort aankeer, het Mavimbela gesê.

Die twee aanvallers beskadig Sondag die 51-jarige slagoffer se afleweringsvoertuig. Foto’s: Golden Mtika

Die aanvallers stenig en rand hul slagoffer aan.