’n 20-jarige vrou van Meyerton het oorleef nadat sy gewurg en in haar motor tot in die Kliprivier gestoot is, glo deur ’n kollega.
Die vrou het eergisteraand omstreeks 22:00 van die werk af gekom en sou die kollega (19) by sy huis gaan aflaai, het Beeld verneem.
Die man het haar glo gewurg en sy het haar bewussyn verloor. Hy het glo verder met haar motor gery en haar weer gewurg toe sy bygekom het.
Sy het haar bewussyn daarna in haar motor in die Kliprivier herwin en kon deur ’n gedeeltelik oop ruit aan die bestuurderskant ontsnap. Sy het na die wal geswem en hulp gaan soek.
Die polisie is ontbied.
Die 19-jarige man is gearresteer en van poging tot moord aangekla.
Volgens sers. Xolile Majola van die Meyerton-polisie sal die man vandag in die Meyerton-landdroshof verskyn.
Selka-Ann Badenhorst van die Mediclinic in Vereeniging het bevestig dat die vrou daar aansterk.
Die slagoffer, wat nie geïdentifiseer wou word nie, werk by Pulsit Electronics, wat in die opsporing van gesteelde voertuie spesialiseer.
Mike Fourie, eienaar van die onderneming, het gesê dit gaan goed met haar en sy kan moontlik vandag ontslaan word.
“Gister was baie traumaties vir ons. Om te dink dat so iets met iemand kan gebeur wat jy goed ken en vir wie jy baie omgee. ’n Mens lees van sulke goed, maar dink dat dit nooit met jou of met iemand wat jy ken, kan gebeur nie.”