Beeld SITES/SERVICES >

G'n lisensie as jy nie Aarto-boetes betaal

By: Antoinette Slabbert 2012-01-26 09:35
PRETORIA. - As jy jou nuwe Aarto-boete nie betyds betaal nie, lê ’n moeilike tyd voor.

Inwoners van Pretoria en Johannesburg met agterstallige boetes sal nie hul voertuigregistrasie kan hernu nie, nie nuwe voertuie kan registreer nie, nie hul rybewyse kan hernu of vir ’n nuwe rybewys in ’n ander klas aansoek kan doen nie.

Mnr. Japh Chuwe, registrateur van die Padverkeersmisdryfagentskap (RTIA) het verkeersowerhede in ’n brief verwittig dat ’n verdere fase van die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto) in die twee proeflopies in Johannesburg en Tshwane reeds op 16 Januarie in werking getree het.

Dit is nog ’n stap voordat die wet op 1 April landwyd in werking tree.

’n Afdwingingsbevel gaan in die nuwe fase uitgereik word aan oortreders wat nie hul boetes binne 64 dae ná die oortreding betaal nie. Dit geld wel net vir oortredings van 1 November 2011 af.

Die oortreder is dan aanspreeklik vir die volle boete plus R120 administratiewe koste. Hy word ook uitgesluit van alle transaksies op eNaTIS.

Dit beteken ook ’n voertuigeienaar sal nie ’n nuwe voertuig kan registreer of een wat hy verkoop, kan oordra op die koper se naam nie. Dit raak ook die uitreiking van padwaardigheidsertifikate.

More Stories in Suid-Afrika

«Back