Regter Sita Kolbe het Donderdag in die hooggeregshof in Thokoza die saak van Jaco Steyn tot Maandag uitgestel.
Adv Anton Lerm het aangevoer sy kliënt voel lighoofdig en het griep en het daarom aansoek gedoen om uitstel tot Maandag.
"Daar was ook nog nie genoeg tyd om behoorlik met hom te konsulteer nie."
Shireen de Waal, die ma van Louise de Waal wat in Oktober verlede jaar vermoor is, was kwaad oor dié uitstel: "Hy het goed genoeg gevoel toe hy my dogter vermoor het."
Familielede het verlof by hul werk geneem om die verhoor te kon bywoon omdat hulle verwag het Steyn sal vandag getuig.
Die vermeende Sondagverkragter se advokaat het Woensdag reeds aangedui hy sou Donderdag om uitstel vra om verder met sy kliënt te konsulteer.
Die staat het sy saak teen Steyn gister gesluit.
Steyn ontken skuld op 37 aanklagte van onder meer moord, verkragting en ontvoering.
Elke dag dra Steyn dieselfde blou plastiekreënbaadjie by ’n strepieshemp, bruin broek en tekkies.
Sy aantekeninge in ’n dik lêer groei voortdurend.
By hom het Steyn ’n waterbottel met koeldrank en ’n verslete, bruin Bybeltjie.
“Ek het gister in Psalms ’n stukkie gelees waar ek die versekering kry God kyk na my,” het hy gister ná die hofverrigtinge gesê.
Elke oggend groet hy die joernaliste en fotograwe vriendelik. Afgesien van hofordonnanse en adv. Anton Lerm, vir die verdediging, is die media die enigste met wie hy deur die dag kan gesels.
Hy het gister vir die eerste keer ’n iPad vasgehou.
Steyn is sedert Oktober in aanhouding en het nooit aansoek om borg gedoen nie.
“Sjoe, dis
cool. Ek wil ook een hê,” het hy gesê toe hy met sy vinger oor die skerm gly en aandagtig ’n Beeld-storie oor die hofverrigtinge lees.
Waar hy hom bevind is koerante en ander leesstof so skaars soos hoendertande. Of so skaars soos Coke, waarvoor hy baie lief is.
“Ek het nog net enkele stories oor my eie hofsaak gelees.”
Die volgende oomblik het sy oë rooi en waterig geword.
“Gee my net ’n oomblik, ek is nog baie emosioneel.”
Hy het geveg om selfbeheer en enkele oomblikke later met ’n gebroke stem gesê: “Die Huisgenoot-storie met die onderhoud van my vrou was die belangrikste.”
Steyn en sy gewese vrou is in die afgelope jaar geskei.
Sedert hy in die Palm Ridge-hof in Thokoza verskyn het, was geen van sy familie of vriende daar ter ondersteuning nie.

Steyn op pad na sy selle toe. FOTO: NELIUS RADEMAN

Steyn gesels met Sapa-joernalis Maryke Vermaak. FOTO: NELIUS RADEMAN