Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Video: Goud! Goud! Goud!

Deur: Marizanne Kok 2012-08-03 00:16
Londen. – Oor die laaste 250 m het die vier lede van die Suid-Afrikaanse roeispan oor en oor geskree “Goud! Goud! Goud!” om hulself te motiveer.James Thompson, een van die vier, het ná hul sege gistermiddag gesê: “In die hele seisoen wanneer een van ons gesê het ‘Ons het net een doel’, moes die res skree: ‘Goud!’ "

Thompson en sy spanmaats, Matthew Brittain, Sizwe Ndlovu en John Smith, het die goud gewen in die Olimpiese liggewig-roeikompetisie.

Hulle is almal oud-Tukkies.

Die span was net voor die 500 m- merk vierde in die stryd oor 2 000 m.

Oor die laaste 250 m het hulle Denemarke en Brittanje ingehaal en die kano se neus net voor die Britte oor die lyn geroei.

Hul wentyd van 6 min, 2,84 sek. was net ’n kwart van ’n sekonde vinniger as die Britte. Denemarke was die grootste deel van die eindronde voor.

Hulle het met brons geëindig in ’n tyd van 06:03,16.

Dié goue medalje het verseker dat Suid-Afrika sy beste Spele-vertoning sedert hertoelating minstens sal ewenaar nadat Cameron van der Burgh (100 m-borsslag) en Chad le Clos (200-vlinderslag) ook reeds goue medaljes gewen het.

Die Spele van 1996 in Atlanta het ook drie goue medaljes opgelewer.

Suid-Afrika se beste ooit was die Spele van 1912 in Stockholm, waar die land vier goues gewen het.

Thompson het gesê hul plan was altyd om rustig te begin en sterk klaar te maak.

“Om in die eerste helfte opgewerk te raak weens emosies en alles te gee, bewys jou geen gunste wanneer daar 250 m oor is en jy die skroewe moet vasdraai nie. Ons doelwit was altyd om in die bondel te wees by die halfpadmerk,” het hy gesê. 

“Ons het (Dinsdagaand) sit en kyk na Chad se resies en hy het teruggeveg nadat hy ’n bietjie agter was. Ons het toe vir mekaar gesê dís hoe ons dit ook gaan doen.”

Hoewel die uitslag Suid-Afrika onkant betrap het, het die roeispan self altyd geweet hulle het ’n realistiese kans om goud te wen. Hulle het die hele jaar lank net een internasionale regatta verloor, het in Mei silwer op die Wêreldbeker-regatta gewen en was deurgaans sonder beserings.

“Ons was die hele jaar lank op ’n goeie plek, so dié uitslag het ons nie verras nie,” het Thompson gesê.

Die manier waarop die Suid-Afrikaanse span die res ingehaal het, het groot lof uitgelok van twee van Brittanje se grootste roeilegendes.

Sir Matthew Pinsent, wat tussen 1992 en 2004 vier Olimpiese goue medaljes gewen het, het aan Road to London gesê: “As jy onpartydig bly, móét jy sê dit was die beste eindpoging nog ooit op die Olimpiese Spele.”

Sir Steven Redgrave, ’n vyfmalige Olimpiese kampioen, het gesê: “Om met soveel krag van agter te kom en Suid-Afrika se eerste Olim­piese goue roeimedalje te wen, was ongelooflik. Hulle was nogal ver agter, maar hulle het uitgehaal en ’n paar baie goeie teenstanders verbygesteek.”

Donovan Cech en Ramon di Clemente van Suid-Afrika het op die Spele van 2004 in Athene ’n bronsmedalje gewen.

Tubby Reddy, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), het gistermiddag aan Lourensa Eckard gesê die roeiers se vertoning sal help om jongmense aan te spoor om te roei.

Hy het ook gesê Sizwe (Lawrence) Ndlovu het die mite dat swart mense nie kan swem nie, uit die weg geruim.

“As hulle (swart mense) geleer word om te swem, sal hulle sukses behaal,” het hy gesê.



James Thompson

Geboortedatum: 18 November 1986
Klub: Tuks
Prestasies: Silwer in die Wêreldbeker-regatta in Luzern, Switserland, in Mei 2012.
Lewensleuse: Myle maak kampioene.
- Het ’n graad in sportwetenskap.



Matthew Brittain


Geboortedatum: 5 Mei 1987
Klub: Tuks
Prestasies: Deelname aan ’n wêreldregatta vir juniors, vier o.23-wêreldbyeenkomste en drie senior wêreldbyeenkomste.
Lewensleuse: Oefen asof jy tweede is, neem deel asof jy voor is.
- Besig met honneursgraad in ekonomie.





John Smith


Geboortedatum: 12 Januarie 1990
Klub: Tuks
Prestasies: Silwer in Wêreldbeker-regatta in Luzern in Mei 2012, o.23-wêreldkampioen in 2011.
Lewensleuse: Weet jy wat wag anderkant die wenstreep? Onsterflikheid – gryp dit!
- Het ’n B.Com-graad in finansiële bestuur en is besig met nagraadse studie.





Sizwe Ndlovu


Geboortedatum: 24 September 1980
Klub: Tuks
Prestasies: Silwer in o.23-wêreldbyeenkoms in 2002.
Lewensleuse: Volg jou eie pad en laat ’n spoor.

- Het ’n graad in sportwetenskap.




Ja, dis goud! “Ons was die hele jaar lank in ’n goeie plek, so dié uitslag het ons nie verras nie,” het Thompson gesê. Foto: Natacha Pisarenko, AP


«Terug