'n Minderjarige is in hegtenis geneem op drie aanklagte van moord ná die skietdood van Deon (44), Christel (43) en Marthella Steenkamp (14), op 6 April in hul plaashuis op die plaas Naauwhoek, net buite Griekswastad.
Hy sal Donderdag in die hof op die dorp verskyn.
Ingeligte bronne in die nasionale vervolginsgesag en in regskringe het die inhegtenisneming aan
Volksblad bevestig.
Marthella was 'n leerling van die Oranje-meisieskool.
Sy en haar ouers is omstreeks 18:30, terwyl hulle na
Vetkoekpaleis op TV gekyk het, in die TV-kamer doodgeskiet.
Die enigste oorlewende was die gesin se seun, Don Steenkamp (15), 'n leerling aan Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein.
Hy het aan die polisie vertel hy was buite in pakhuis besig ten tye van die aanval en het niemand gesien nie.
Hy het na die huis gehardloop, die lyke ontdek, en in die bakkie gespring om dorp toe te ry.
Hy het die handwapens, ’n .357 Magnum-rewolwer én 'n .22-handwapen, in die pad opgetel en aan die polisie op die dorp oorhandig toe hy die moorde aangemeld het. - Charné Kemp, Volksblad