Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

HK-lid sy pos kwyt oor hy stilbly

Deur: Susan Cilliers 2012-07-22 23:02
’n Huiskomiteelid van die manskoshuis Hombré aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom is geskors en sy posisie as HK-lid kwyt omdat hy ander huiskomiteelede en seniors se beweerde drank- en vandalistiese orgie in Mei nie aangemeld het nie.

Ben-Louis van der Walt, wat die portefeulje jool, akademie en sekretaris beklee het, is ná ’n onlangse tugverhoor vir ’n jaar uit die universiteit geskors.

Volgens Kiewiet Scheppel, kampuswoordvoerder, is sy skorsing vir twee jaar opgeskort op voorwaarde dat hy hom nie weer aan so ’n oortreding skuldig maak nie.

Hy is steeds van sy pligte as HK-lid onthef.

“Dis nie lekker nie,” het Van der Walt aan die kampuskoerant Die Wapad gesê.

“’n Mens maak een keer ’n fout en dan verloor jy jou HK-status, maar ek vat dit soos ’n man.”

Van der Walt was nie self by die gewraakte gangaksie op 18 Mei nie, maar het nie dadelik die skade aangemeld nie.

Hy het verkies om verhoor te word voor die ander HK-lede en seniors wat ook geskors is hangende ’n tugverhoor in Augustus, het Die Wapad berig.

Hombré se hele HK is geskors.

Drie seniors se tugverhoor is saam met dié van Van der Walt afgehandel. Hulle is ook geskors, maar hul skorsing is vir drie jaar opgeskort.

Volgens Scheppel is dit op voorwaarde dat hulle nie weer so ’n oortreding begaan nie en nooit drank op enige van die persele van die NWU soos klubhuise, koshuise, die Joolplaas en die kampusrestaurant mag gebruik nie.

Twee van die drie seniors is ook boetes van onderskeidelik R1 500 en R500 opgelê.

Hombré se primarius, Louis Gilles Janse van Rensburg, en onderprimarius, Gerard Munnik, is onder die HK- en koshuis­lede wie se tugverhore nog voorlê.

Drank is glo tydens die gangaksie in Mei misbruik en skade van etlike duisende rande in die koshuis aangerig.

Die studente het glo gerook en drink terwyl dit nie in die koshuis toegelaat word nie.

«Terug