Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Hartseer stories, gelukkige eindes

Deur: Hilda Fourie 2012-12-23 21:37
Polokwane. – Die Ngwana-babahuis in Polokwane is ’n huis met hartseerstories wat altyd ’n gelukkige einde het.

So sê Amanda Koekemoer oor dié babahuis wat die enigste van sy soort in Limpopo is. Die huis bestaan al sowat ses jaar lank.

“Die huis het begin nadat kinders by die pastorie van die AGS-kerk gelos is,” het Koekemoer gesê.

“Van die babas is in die veld by asblikke gekry of gered uit ’n toiletput. Van die ander babas is deur hul ma’s by hospitale gelos of deur die polisie van hul ouers af weggeneem.

“Dit is baie sad, maar daar is altyd ’n happyending.”

Die huis se personeel kan 18 babas en kleuters versorg. Die babas is nie veronderstel om langer as ses maande by die huis te bly nie omdat dit ’n halfweghuis is.

Tog is dit nie altyd moontlik om ’n baba binne ses maande te plaas nie, het Koekemoer gesê.

Hulle het byvoorbeeld ’n driejarige seuntjie wat al twee jaar lank by hulle is.

Van die hartseerstories wat Koekemoer se pad al gekruis het, is babas met fetale alkoholsindroom, ’n baba wie se 13-jarige ma deur háár pa verkrag is en ’n ma wat haar swangerskap probeer beëindig het en toe oorleef die baba.

Wanneer die babas by die huis aankom en hulle is óf te klein óf te swak, kyk Koekemoer self na hulle.

“Op die ou einde is dit die kind wat daaronder ly. En dit is nie die kind wat hier wou gewees het nie,” het Koekemoer gesê.

“Ek bid oor elke baba en dat die Here die regte huis en ouerpaar vir elke baba sal gee.

“God het elke kind gemaak en wanneer hy aangeneem word, is dit die wonderlikste gevoel. Ek weet vir elke kind is daar ’n plekkie en dat hulle elkeen ’n huis gaan kry.”

Volgens Koekemoer is Desember-maande die besigste en kry hulle soms baie babas in ’n week se tyd.

Die babahuis kry hulp van die kerk en is ook afhanklik van die gemeenskap se skenkings.

Wenslysie:

Motorafdak;
16 houtbababeddens van dieselfde soort hout en
Weggooidoeke

Diegene wat wil help, bel Koekemoer by 082 442 5306.

 
«Terug