Groot verwarring heers in regskringe nadat vervolging op aanklagte van 29 seksmisdade in die Wes-Kaap gestaak is.
Dit is gedoen omdat die hooggeregshof in Kaapstad bevind het dié 29 oortredings van die sekswet is aan geen spesifieke straf gekoppel nie.
Maar die naweek het dit aan die lig gekom dat uitsprake in twee ander hooggeregshowe – die Vrystaat en in KwaZulu-Natal – lynreg bots met die Kaapstadse uitspraak.
Volgens prof. Tom Coetzee, strafregkenner van Potchefstroom, het die “belaglike” situasie nou ontstaan dat seksoortreders in die Wes-Kaap nie meer vervolg kan word nie, maar as hulle dieselfde misdade in die Vrystaat of KwaZulu-Natal pleeg, sal hulle wel vervolg word.
Dié misdade is van die ernstigstes in die sekswet en sluit in seksuele oortredings met kinders, seksuele aanranding, bloedskande en bestialiteit.
Coetzee het gesê ingevolge die Suid-Afrikaanse reg se presedenteleer moet elke hof in die jurisdiksie van ’n provinsiale hooggeregshof ’n uitspraak van die hooggeregshof nakom.
Ander provinsies waar geen uitspraak nog oor dié regspunt gelewer is nie, hoef nie die uitspraak van ’n ander provinsie te volg nie, maar so ’n uitspraak “sal wel sterk oorredingsvermoë inhou vir advokate wat sulke misdadigers in die ander provinsies verteenwoordig”.
“Jy sit dus nou met die regsposisie waar seksmisdadigers lustig en ongestraf kan aangaan met hul misdaad in een provinsie, terwyl hulle dit in twee ander provinsies nie mag doen nie.
“In die res van die provinsies weet geen mens wat dié hooggeregshowe oor die saak gaan sê nie,” het Coetzee bygevoeg.
“Die enigste oplossing is dat die appèlhof uiters dringend regsekerheid bring in ’n uitspraak wat waarskynlik ook in die konstitusionele hof sal draai.
“Die huidige situasie is skokkend en die arme publiek verstaan daar waarskynlik geen snars van nie. In ’n demokratiese bestel kan so iets nie toegelaat word nie.
“Dit is jammer dat die wetgewer, wat jare lank aan die wet gewerk het, nie die hele gemors voorkom het deur een enkele sin in die wet by te voeg nie.
“Dié sin kon gelui het dat in al 29 die misdade wat betrokke is, die straf op die diskresie van die verhoorhof berus. So maklik sou dit gewees het.”
Gerugte het Vrydag die ronde gedoen dat ’n appèl reeds op 30?Mei in die appèlhof aangehoor sou word, maar teen Vrydagmiddag is nog geen hofstukke daaroor by die griffier ingedien nie.