DIE burgemeester van Sasolburg en buurdorpe se ampsmotor moes op die N1 buite Bloemfontein agternagesit en afgetrek word nadat die bestuurder, ’n oud-verkeersman, glo teen 235km/h gery en toe vir verkeerskonstabels probeer wegjaag het.
Elliot Sefatsana, die bestuurder van burgemeester Brutus Mahlaku van Metsimaholo se wit Mercedes-Benz, is in hegtenis geneem en later op borgtog van R1000 vrygelaat.
Die verskoning was dat Mahlaku in Bloemfontein moes wees vir ’n vergadering met premier Ace Magashule. Die 235 km/h waarteen na bewering gejaag is, is een van die grootste spoedoortredings tot nog toe in die Vrystaat.
Verkeersbeamptes wou die burgemeestersmotor naby die Verkeerdevlei-tolhek aftrek nadat dit deur ’n snelstrik is, maar Sefatsana het glo die motor se blou ligte aangesit en weggejaag.
Hy is deur verkeersbeamptes van Bloemfontein se hoëspoed-eenheid agternagesit en sowat 30km verder afgetrek. Mahlaku het daarna om verskoning gevra, is aan Volksblad gesê.
Gino Alberts, munisipale woordvoerder, het die voorval bevestig en gesê Mahlaku het ’n vergadering met Magashule gehad.
Sers. Fikiswa Matoti, polisiewoordvoerder, sê Sefatsana moet op 28 Augustus in die hof verskyn.
• Dan Kgothule, Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, is einde 2010 ook teen sowat 235km/h betrap. Hy is destyds ’n boete van R15000 of nege maande tronkstraf opgelê.
Nog twee motoriste, S.S. Ntsele, ’n hoë amptenaar, en Thabo Meeko, voormalige provinsiale leier van die ANC-jeugliga, is vroeër vanjaar na bewering teen ’n spoed van 191 km/h aangekeer.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro-munisipaliteit, is ook al in hegtenis geneem toe hy na bewering teen 180km/h in sy Mercedes-Benz gejaag het.