Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Hoof van ryskool vas oor rybewyse

Deur: Ügen Vos 2012-12-23 21:36
Die Johannesburgse metropolisie het gister die 29-jarige eienaar van ’n bestuurskool in die middestad met 37 vervalste leerlingrybewyse in sy besit betrap.

Metropolisielede was volgens hoofsupt. Wayne Minnaar, metropolisiewoordvoerder, omstreeks 13:00 besig met roetine-operasies op die hoek van Smith- en Eendrachtstraat in Braamfontein toe hulle ’n man in ’n rooi Toyota Tazz opmerk wat verdag optree.

Die man is beveel om van die pad af te trek en het ’n vervalste rybewys aan die metropolisie getoon.

Die man het drie verskillende rybewyse in sy besit gehad, almal met dieselfde naam en identiteitsfoto, maar met verskillende uitreikingsdatums – 2005, 2006 en 2011.

Die metropolisielede het die man se voertuig deurgesoek en op 37 vermoedelik vervalste leerlingrybewyse afgekom.

Hy is in hegtenis geneem en na die Hillbrow-polisiekantoor geneem waar hy aangehou word.

Hy sal vermoedelik tot Januarie in polisie-aanhouding moet bly aangesien daar nie op die oomblik enige landdroste beskikbaar is om sy saak aan te hoor nie.

Die metropolisie vermoed dat die man vervalste rybewyse verkoop.

Hy het na bewering die vervalste leerlingrybewyse teen R350 stuk verkoop en sowat R1 500 en R2 800 vir onderskeidelik vervalste rybewyse vir normale voertuie (kode B) en swaar voertuie (kode C1) gevra.
 
«Terug