Regter Pat Gamble het Gcinikhaya Makoma en sy agt mede-beskuldigdes Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad op talle klagte skuldig bevind ná ’n transitorooftog op 3 Desember 2007 in Duikerstraat, Parow.
Makoma is onder meer op ’n aanklag van moord, vier van poging tot moord en een van roof skuldig bevind. Die staat het gister gesê hy gaan ’n vonnis van lewenslange tronkstraf weens die moordklagte vra.
Makoma, ’n oud-Apla-lid, is in Maart 1995 skuldig bevind op 11 aanklagte van moord nadat hy in Julie 1993 tydens ’n erediens in die St. James-kerk in Kenilworth ingebars en op kerkgangers losgebrand het.
Hy is tot 23 jaar tronkstraf gevonnis, maar die WVK het in 1998 amnestie aan hom verleen. – Carryn-Ann Nel