Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘Jesus sou by beheerpunt gebore word’

Deur: Neels Jackson 2012-12-23 21:37
Betlehem, waar Jesus meer as 2 000 jaar gelede gebore is, lyk vandag baie anders as destyds, maar daar is tog duidelike ooreenkomste.

Dr. Mitri Raheb, ’n Palestynse Evangelies-Lutherse kerkleier van Betlehem, skryf op sy webwerf Betlehem was destyds ’n klein dorpie met tussen 300 en 1 000 inwoners.

Vandag is dit ’n besige stad in Palestynse gebied met 28 000 inwoners – ’n derde daarvan Palestynse Christene.

Raheb sê dat Jesus gebore is as ’n vlugteling wat voor Herodes moes ontsnap en in Egipte gaan skuil.

Vandag is daar sowat 20 000 Palestynse vlugtelinge in Betlehem. Dis mense wat hul grond verloor het toe Israel in 1948 tot stand gekom en in Betlehem skuiling gaan soek het.

Hulle bly steeds in drie vlugtelingkampe terwyl hulle wag op ’n regverdige oplossing.

Raheb vertel van ’n besoekende prediker wat ’n teologiese konferensie in Betlehem wou gaan bywoon.

By die lughawe in Tel Aviv het Israelse beamptes hom genooi vir ’n koppie koffie en ’n geselsie – kodetaal vir ’n ondervraging van omtrent vier uur.

Raheb sê dis min of meer dieselfde wat gebeur het met die wyse manne in die geboorteverhaal.

Herodes het hulle “genooi vir ’n koppie koffie” om uit te vind presies wat hulle daar wou kom doen.

Soos destyds onder Herodes se bewind, is Betlehem vandag ook ’n stad onder beleg, sê Raheb.

Dit word van drie kante af omring deur ’n muur van sowat 8 m hoog.

As Jesus hierdie Kersfees gebore moes word, sou sy ouers nie in Betlehem kon kom nie. Maria en Josef, en die wyse manne ook, sou nie deur die Israelse beheerpunt kon kom nie.

Die herders sou binne die muur vasgekeer wees en nie kon uitkom nie.

Jesus sou heel moontlik, soos baie Palestynse kinders, by die beheerpunt gebore word.

Raheb sê die evangelieboodskap tussen dit alles is dat God na hierdie wêreld, die regte wêreld met al sy ingewikkelde probleme en vrese, gekom het.

Die goeie nuus is dat God “een van ons” geword het. Hy het as kwesbare kind gekom, maar kon met sy kwesbaarheid die boosheid oorwin.

Kersfees is God se belofte dat daar vir sy mense lewe, vrede en ’n toekoms sal wees.

“Vir ons Palestynse Christene van Betlehem is die Kersverhaal ons storie vandag.”

«Terug