Die verwagting is dat die ANC-jeugliga Woensdag 'n laaste poging gaan aanwend om die ANC te probeer oortuig om Julius Malema terug te vat.
Abner Mosaase van die jeugliga se uitvoerende komitee het bevestig dat die kwessie van die vloer af geopper gaan word tydens 'n algemene vergadering by die Mangaung-kongres later Woensdag.
"Ons het nog nie besluit wie gaan praat nie, maar die kwessie sal geopper word."
Die Mangaung-kongres is Malema se laaste hoop om weer aangestel te word, maar ná die oorweldigende meerderheid waarmee pres. Jacob Zuma herkies is, is die kans op simpatie van afgevaardigdes vir Malema skraal. Malema en Zuma het aartsvyande geword.
Malema en die geskorste jeugliga-woordvoerder, Floyd Shivambu, het ook 'n brief geskryf waarin hulle vra dat Malema heraangestel word en het daarop gesinspeel dat hulle hof toe kan gaan as dit nie gebeur nie.