Beeld

Joernalis Holland pleeg selfmoord

Deur: Ügen Vos 2012-08-12 20:48
Heidi Holland, skrywer van die boek Dinner with Mugabe en ’n veteraan-joernalis van langer as 30 jaar, het vermoedelik oor die naweek by haar huis in Melville selfmoord gepleeg.

Lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het gister gesê die 64-jarige Holland se tuinier het Saterdag omstreeks 10:10 op haar lyk afgekom en die polisie ontbied. Sy is gevind waar sy aan ’n boom in haar tuin gehang het.

Mogale het gesê die polisie vermoed nie enige ongerymdhede in verband met Holland se dood nie. ’n Geregtelike ondersoek is begin om die presiese omstandighede van haar dood te bepaal.

Holland se seun, Nick, het gister gesê haar uitgewers sal moontlik later vandeesweek ’n persverklaring uitreik.

EWN het berig Holland het haarself aan ’n boom in haar tuin opgehang.

Max du Preez, politieke ontleder en stigter van die Vrye Weekblad, het gister op Twitter gesê.

“Dit is vir my baie moeilik om te aanvaar dat die dinamiese, lewenslustige Heidi Holland wat ek geken het haarself so sou doodmaak.”

Holland word oorleef deur haar ma en susters, nog ’n seun Jonah en skoondogter Nicky en kleinseun Hugo.
«Terug