Durban. – Twee luukse 4X4’s van onderskeidelik ’n Pondo-koning en ’n Oos-Kaapse burgemeester is nou al sowat vier maande lank in ’n skut aan die KwaZulu-Natalse suidkus omdat dit onwettig met blou ligte toegerus is.
“Ons kan nie daaroor bes gee nie. Op KwaZulu-Natal se paaie kan ons nie toelaat dat jy die wet oortree nie,” het Kwanele Ncalane, woordvoerder van die provinsiale vervoerdepartement, gister gesê.
Ncalane het gesê die Padverkeerswet stel dit duidelik dat net voertuie wat deur ’n vredesbeampte – ’n verkeersbeampte, polisie- of weermaglid – bestuur word blou ligte mag gebruik.
Volgens hom is burgemeesters slegs op die gebruik van blou ligte geregtig as die polisie ná ’n veiligheidsontleding so sê.
Die twee voertuie is in afsonderlike voorvalle in Augustus in opdrag van Aboo Aboobaker, plaaslike stasiebevelvoerder van die provinsiale verkeersafdeling, geskut nadat dit op die N2-hoofweg by Park Rynie weens spoedoortredings afgetrek is.
In die eerste voorval is die Jeep Grand Cherokee van die Mbizana-distriksraad waarin Zoleka Busuku, burgemeester, met blou ligte aan na die Koning Shaka- internasionale lughawe op pad was, voorgekeer omdat dit teen 152 km/h gery het.
Twee weke later is die Mercedes-Benz ML 320CDI met koning Ndamase Ndamase van Wes-Pondoland in in dieselfde omgewing voorgekeer toe dit met blou ligte teen 157 km/h gejaag het.
In albei gevalle is die voertuie nie deur ’n vredesbeampte bestuur nie.
Busuku het glo aan verkeersbeamptes gesê in die Oos-Kaap mag burgemeesters blou ligte in hul ampsvoertuie gebruik.
Bloulig-konvooie van die regering is al ’n geruime tyd ’n teer punt onder die KwaZulu-Natalse publiek.
Weens die omstredenheid het die provinsiale regering Willies Mchunu, LUR vir vervoer, beveel om vas te stel wat die regsaspekte rondom die gebruik van blou ligte is.