Kaapstad. – Met die rook van smeulende Khoi-kruie en Nama-dreunsang het ’n groep mense gister ’n bord met die Moederstad se oorspronklike naam daarop onthul.
//Hui !Gaeb, of “plek waar die wolke saampak”, was nog altyd dié plek se naam en Tafelberg se naam is !Hoerikwaggo of “berge uit die see”, het Francisco McKenzie, stamhoof van die Khoisan in Kaapstad, gesê.
Die bord is deur die Institute for the Restoriation of the Aborigines of SA opgerig met geld wat deur die kitskosgroep Nando’s geskenk is.
Nando’s het vroeër gesê dit is omdat hy “minderhede en diversiteit steun” en dit is nié een van sy veelbesproke advertensies nie.
Gister se plegtigheid was nie ’n aktiewe beywering om die stad se naam te verander nie, maar om simbolies erkenning te gee aan die Khoisan se voorsate en hul oeroue erfenis.
Die groep het nie toestemming gehad om die bord op te rig nie.
“Ons gaan nie toestemming van wit of swart mense kry nie,” het McKenzie gesê.
Hy het bygevoeg: “Die Khoisan is nie deel van die Grondwet nie en geniet nie erkenning nie.
“Almal soek ons stemme, die ANC en die DA, maar as dit by ons regte kom, verkrag hulle dit. Ons stem nie weer nie.”