Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Kaptein dood ná kolonel hom glo teister

Deur: Gerhard Pretorius 2012-06-18 23:14
“Hy het nie ’n korrupte been in sy lyf gehad nie.”

So het ’n vriend van kapt. Brian Plaatjies (43), die polisieman wat Saterdagoggend in Eersterust, Pretoria, selfmoord gepleeg het, gereageer op bewerings dat Plaatjies korrup was.

Plaatjies het glo ’n beweerde polisieberiggewer uit polisie-aanhouding vrygelaat wat hom glo met die arrestasie van ’n misdaadverdagte gehelp het.

Volgens die kollega, wat anoniem wil bly, is dit normale praktyk in die polisie om beriggewers te gebruik om misdaadverdagtes te help aankeer.

Polisielede het Vrydag ’n Nigeriër en drie Suid-Afrikaanse mans in Irene gearresteer, waarna Plaatjies die drie Suid-Afrikaners vrygelaat het.

’n Kolonel het toe glo vir Plaatjies gesê as hy nie weer dié drie mans arresteer nie, gaan hy agter tralies beland.

Plaatjies kon twee van die mans opspoor, maar toe hy nie die derde kon kry nie, het hy selfmoord gepleeg. Volgens Plaatjies se kollega was die een wat hy nie kon opspoor nie die beriggewer en die ander twee net vriende van die beriggewer.

Plaatjies se vrou, Vanessa, het gister gesê die rede vir sy selfmoord was nie omdat hy korrup was nie, maar omdat ’n senior offisier hom geteister het.

In Plaatjies se selfmoordbrief, wat hy op ’n polisieverklaringsvorm geskryf het, het hy gesê hy was nog altyd eerlik en al wat hy gedoen het, was om ’n polisieberiggewer te kweek wat inligting aan hom kan verskaf.

“My man was ’n eerlike mens. Ons het al sonder kos in die huis gesit, maar hy het geweier om omkoopgeld te vat.

“Hy het my van ’n geleentheid vertel toe hy op ’n hoop geld in ’n veld afgekom en dit ingedien het.

“Dit het vir my man gegaan oor sy integriteit en hy wou nie agter tralies gaan sit vir iets wat hy nie gedoen het nie.

“My man is tot sy dood gedryf,” het sy gesê.

Bennie Domingo (53), Plaatjies se oom, het gesê hy is van een ding seker en dit is dat Plaatjies nooit korrup was nie.

“Hy het dan al by my kom geld leen as hy in die knyp is. Hoekom sal hy kom geld leen as hy so korrup was en mense hom met geld gesmeer het,” het Domingo gesê.

Teen druktyd het lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, nog nie kommentaar oor die voorval gehad nie.
 

Die selfmoordbrief van kapt. Brian Plaatjies.

«Terug