Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Knyptang effe losser

Deur: Francois Williams en David van Rooyen 2013-02-27 23:07
Suid-Afrikaners kon ná gistermiddag se begrotings­rede behoorlik ’n sug van verligting slaak.

Daar het toe niks gekom van die bespiegelings dat hoër belasting op pad is en dat veral die rykes gaan deurloop nie.

“Boe! Julle het gedink ek gaan belastings verhoog en ek het nie,” het Pravin Gordhan, minister van finansies, gister op ’n mediakonferensie voor die begrotingsrede met joernaliste geskerts.

Die minister het trouens R7,3 miljard se verligting aan belastingbetalers gegee deur die belastingdrempels soos gewoonlik aan te pas om vir inflasie voorsiening te maak.

Nie veel daarvan gaan egter in belastingbetalers se sakke beland nie omdat die minister weer R5,8 miljard teruggevat deur soos gewoonlik petrol, drank en tabak hoër te belas.

Die swakker ekonomie, wat daartoe gelei het dat die staat sowat R16 miljard minder belasting ingesamel het as wat verwag is, is die rede waarom ontleders verwag het dat Jan Publiek vanjaar meer sal moet opdok.

Die vrese is vererger nadat pres. Jacob Zuma in sy staats­rede aangekondig het dat ’n kommissie die land se belastingstelsels gaan ondersoek.

Dit is nie te sê dat die belastingbetaler nie dalk in die toekoms meer sal moet opdok nie.

Volgens Gordhan is daar besluit om nie aan die belastingstelsel te torring nie omdat die ekonomie so swak is.

“As die ekonomie egter aanhou sukkel, en belastinginkomste daal steeds, sal daar dalk geen ander opsie wees as om belasting te verhoog nie,” het hy gewaarsku.

Regter Dennis Davis is as voorsitter van die belastingkommissie aangestel.

Die regering het vanjaar besluit om meer geld te leen om sy besteding te finansier, maar dié stap is nie deur ekonome en die internasionale graderingsagentskappe verwelkom nie. (Lees die berig in Sake 24).

Die agentskappe het Suid-Afrika se internasionale kredietgradering juis die laaste paar maande verlaag omdat hulle bekommerd is dat die regering nie meer in staat is om staatsbesteding in bedwang te hou nie weens die druk vir verhoogde welsynsbesteding.

Die nuus dat die begrotings­tekort tot 5,2% van die bruto binnelandse produk gestyg het, vergeleke met 3,1% verlede jaar, het die rand onder druk geplaas.

Gordhan het egter beloof dat die tekort in bedwang gebring gaan word deur suiniger te werk met die geld wat die regering wel inkry.

Gordhan het sterk klem gelê op die nasionale ontwikkelingsplan en gesê voortaan gaan alle programme en begrotingsraamwerke in die konteks van dié plan pas.

Hy wil vermorsing en korrupsie in die staatsdiens vasvat as deel van sy plan om geld beter te bestee. Kenneth Brown, ’n topamptenaar in die tesourie, is aangestel as die eerste hoof van die sentrale kantoor vir staatsaankope, wat sal poog om tenderkorrupsie hok te slaan.

Sekere staatsbates sal verkoop word of beter aangewend word as die regering nie genoeg belasting insamel nie, maar Gordhan wou nie toegee dat dit op privatisering neerkom nie.

...

Blitsig bereken
Gaan jy minder inkomstebelasting betaal? Sake24.com se aanlyn-belastingrekenaar sal jou gou kan help. Gaan na http://begroting.sake24.com/belasting.html om dit blitsig uit te werk.

- Vir al die inligting oor vanjaar se begroting gaan na http://begroting.sake24.com/index.html













«Terug