’n Kruietee wat vrylik in Suid-Afrikaanse winkels en apteke verkoop word, bevat soveel kokaïen dat verbruikers die gevaar loop om dwelmtoetse te druip as hulle dit drink.
Twee Beeld-verslaggewers het die afgelope week Coca Tea, wat deur die maatskappy Cocazone versprei word, beproef deur elk ’n koppie daarvan te drink.
Dié produk word bemark as ’n “hemelse towerplant van die Inkas” en die vrywilligers het ingestem dat toksikoloë aan die Universiteit van Pretoria hul urine ontleed.
Dwelmtoetse by padversperrings, in die werkplek of by skole is só ontwerp dat dit die vlak van die afbreekproduk bensoïelekgonien in ’n kokaïengebruiker se urine meet.
Die afsnypunt is 300 ng/ml vir voorlopige toetse en 150 ng/ml vir bevestiging in ’n laboratorium.
Die verslaggewers se bensoïelekgonienvlak was binne vier uur nadat hulle net een koppie Coca Tea gedrink het onderskeidelik 1 685 ng/ml en 1 831 ng/ml.
Twaalf uur ná die koppie tee was hul bensoïelekgonienvlak steeds hoog genoeg dat hulle die risiko sou loop om gearresteer te word weens kokaïengebruik en afgedank sou kon word.
In Suid-Afrika klassifiseer die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe kokablare waarvan die kokaïen nie verwyder is nie as ’n skedule 6-middel. In die VSA moet kokatee ook kokaïenvry wees.
Kokatee kan nie die gebruiker “hoog” maak soos kokaïen wat gesnuif word nie. Dit is wel ’n stimulant soos kafeïen. Daar is “resepte” op die internet wat verduidelik hoe om die dwelm uit die teeblare te ekstraheer.
Volgens dr. Tim Laurens, direkteur van die Universiteit van Pretoria se forensiese toksikologielaboratorium, strook die verslaggewers se bensoïelekgonienvlak met dít wat navorsers gevind het in studies oor kokatee waaruit die kokaïen nie verwyder is nie.
Jacek Andrysiewicz, direkteur van Cocazone, het gesê dit is sy vrou, Dorota, se onderneming.
Hy het gesê hulle is in Europa en het nie verdere medianavrae geantwoord nie.
Op die onderneming se webwerf word beweer Cocazone skenk van sy wins om kinderslagoffers van dwelmgebruik te help.
Op die verpakking word beweer die tee gee energie, help met dieet en help teen hoogtesiekte en moegheid.
Die Spar-winkelgroep het gesê hy het sy winkels versoek om die tee van hul rakke te verwyder.
Stan Goetsch, woordvoerder van Dis-Chem, het gesê kokatee word in baie lande om gesondheidsredes gedrink en is nie gevaarlik wanneer dit gedrink word nie.
Om dié rede gaan Dis-Cchem nie “drasties” optree deur dit van sy rakke te verwyder nie.
Mandisa Hela, registrateur van die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad, het egter gesê die raad het ’n klag ontvang oor kokatee op Suid-Afrikaanse winkelrakke wat nie kokaïenvry is nie.
“Ons sal monsters neem, dit toets en regstappe doen as dit positief is.”
Cocazone sê:Die kokaplant word al duisende jare in Suid-Amerika as medisyne gebruik, dit is nie verslawend nie en kan “vrylik” gebruik word.
Die chemiese metode waardeur die dwelm uit die plant onttrek word, is eers die laaste dekades ontwikkel. Daarom beskou die wêreld die plant deesdae as “grondstof vir kokaïen” eerder as medisyne.
Aansprake oor die tee:
– gee energie;
– beheer die gemoed;
– help met dieet;
– help teen moegheid;
– help met spysvertering;
– reguleer die metabolisme; en
– verlig hoogtesiekte.