Kaapstad. – Die voortgesette geweld teen vroue is weer eens op Vrouedag landwyd uitgelig.
Die ANC-vroueliga het gesê al het Suid-Afrika een van die mees progressiewe grondwette ter wêreld is die vlak van geweld teen vroue van die hoogste ter wêreld.
“Dié soort geweld deur mans verneder vroue en is ’n ernstige skending van menseregte.”
Liesl van der Merwe, IVP-LP, het vroeër in die parlement daarop gewys dat daar oumas is wat voor hul kleinkinders verkrag word en ma’s wat steeds nie toegang tot onderwys het vir hul serebraal gestremde kinders en kinders met Down se sindroom nie.
“Wanneer ’n mens súlke stories hoor, moet ons aanvaar ons het vroue in die steek gelaat.”
Frans Baleni, sekretaris-generaal van die mynwerkersunie NUM, het ook kommer uitgespreek oor die geweld teen bejaarde vroue.
Ook die FW de Klerk-stigting het kommer uitgespreek oor praktisyns in die strafregstelsel se onvermoë om sulke gevalle te voorkom, te ondersoek en te vervolg.
Die stigting het onder meer verwys na die slegs 4% van alle polisielede landwyd wat tussen 2008 en 2011 ’n opleidingsprogram in sek- suele misdade, gesinsgeweld en kinderbeskerming voltooi het.
Debbie Schafer, DA-LP, het Jeff Radebe, minister van justisie, gekap oor die stadige pas waarteen die bloudruk vir die spesiale howe vir seksuele misdrywe hersien word.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, het verwys na polisiestatistieke wat toon nagenoeg 150 vroue word daagliks in die land verkrag.
“Dit beteken een vrou word elke tien minute in Suid-Afrika verkrag. Dit is skokkend en totaal onaanvaarbaar.”