Kaapstad. – Suid-Afrika se elektrisiteitstariewe het die afgelope ses jaar met tot 288% gestyg en dié tendens kan tot minstens 2030 voortduur.
Intussen sukkel Eskom toenemend om skuld in te vorder. Veral inwoners van voorheen benadeelde gebiede is traag om vir elektrisiteit te betaal.
Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het Woensdag in ’n voorlegging aan die parlement se portefeuljekomitee oor energie gesê die gemiddelde koste van elektrisiteit in 2006-’07 was 17c/kWh.
Luidens Nersa se voorlegging sal 1 kWh in 2012-’13 66c kos.
Eskom is besig met sy jongste aansoek om elektrisiteitstariewe oor die volgende vyf jaar.
Na verwagting kan Eskom Nersa vra om tariefverhogings van tot 16% per jaar goed te keur.
Eskom het vanjaar ’n wins van R13,2 miljard verklaar, maar Paul O’Flaherty, Eskom se finansiële hoof, het gesê die wins is noodsaaklik vir die maatskappy se bouprogram.
Eskom is besig om twee nuwe steenkoolkragstasies te bou wat saam tot R250 miljard sal kos.
“Ons moet in die volgende vyf jaar R120 miljard net aan renteterugbetalings betaal.”
Eskom se omset in 2006 was R36,6 miljard. Volgende jaar sal dit volgens Nersa R148 miljard wees, grootliks weens hoër tariewe.
Intussen sukkel al hoe meer verbruikers om hul elektrisiteitsrekenings te betaal.
Twee van die grootste aanduidings daarvan is:
- Die waarde van gesteelde elektrisiteit het in 2011-’12 tot R1,2 miljard toegeneem, lui Eskom se jongste jaarverslag.
- Een van Eskom se grootste verspreidingsgebiede, Soweto, skuld reeds R3 miljard vir krag. Slegs sowat 30% van die verbruikers in Soweto betaal tans hul kragrekenings.
Hilary Joffe, Eskom-woordvoerder, het gesê Eskom werk saam met rolspelers, waaronder die regering, om die kwessie te takel.
Om mense se krag net af te sny is nie ’n oplossing nie, het sy gesê.
“Om verbruikers se krag af te skakel weens wanbetaling bly ’n skuldbestuurshulpmiddel en daar is gebiede waar dit werk, maar daar is ander gebiede waar dit, as ’n middel op sigself, nie doeltreffend kan wees nie.”
Eskom het lankal gesê elektrisiteitsdiefstal is nie net ’n township-probleem nie.
Groot en medium kragverbruikers is verantwoordelik vir tot 60% van die diefstal en residensiële verbruikers vir die res.
In die verlede het Eskom grootliks met skuldige partye geskik, maar hulle nou begin hof toe neem, het Joffe gesê.
“Daar is tans ’n paar sake voor die hof wat ons as ’n proeflopie vir toekomstige optrede sal gebruik.”