’n Kankerlyer en sy vrou van Rondebult, Germiston, se kragtoevoer is Vrydag afgesny weens ’n agterstallige water-en-elektrisiteitsrekening van meer as R150 000.
Dít terwyl hulle gewoonlik sowat R300 per maand betaal.
“Verlede week toe kry ons die rekening – ’n volle R156 526,94 wat die twee van ons sou laat oploop het,” het Anna Veldman vertel.
“En dít terwyl ek en Johan, my man, skaars meer krag gebruik as wat ons gratis kry.”
Sy is Vrydag al vroegoggend na die kantore van die Ekurhuleni-munisipaliteit in Germiston om die fout te gaan regstel.
“Ná vier uur se gewag sê die man toe ons uiteindelik voor in die tou kom ons moet eers betaal voordat hulle ons krag weer aansluit.
Gelukkig het hy ingesien dat daar êrens ’n fout moet wees en die ‘overcharged’ verander na R8 676 wat ons moet betaal.
“Ek het maar ’n deel en die heraansluitingsgeld ‘afbetaal’ in die hoop dat ons darem weer krag gaan kry. My man het kanker en ek moet hom bad en versorg.
Sonder krag is dit baie erg.
“Gewoonlik betaal ons so R300 per maand, nou moet al die ekstra betalings uit sy weermagpensioen kom,” het Veldman gesê.
Sam Modiba, waarnemende bestuurder van die Ekurhuleni-metroraad, kon gistermiddag nog geen verduideliking gee oor waar die fout ingesluip het nie.
Hulle sou egter probeer om die krag teen gisteraand weer aangesluit te hê.
Volgens Veldman het haar bure ’n rekening vir presies dieselfde bedrag, R156 526,94, gekry.
Mense verder af in die straat het een van meer as R400 000 gekry, maar hul rekening is reeds weer reggestel.